17 dae gelede
Ou gepos ná hit
VERMOOR: Brian Wainstein is geskiet.  ~ Foto Verskaf

’N MAN is ’n tronkvonnis van 25 jaar opgelê vir sy betrokkenheid by die moord op die prominente Kaapse onderwêreld-figuur Brian Wainstein, ook bekend as die “Steroid King”.

Fabian Cupido is in die Kaapstadse hooggeregshof gevonnis vir sy betrokkenheid by die moord nadat hy ’n pleitooreenkoms met die staat aangegaan het.

Hy is tot 25 jaar gevangenisstraf gevonnis vir moord, 5 jaar vir die onwettige besit van ’n vuurwapen, 5 jaar vir geldwassery, 3 jaar vir sy betrokkenheid by ’n bende en 2 jaar vir die onwettige besit van ammunisie. Die vonnisse is gelyklopend.

Cupido het erken hy en Chestlyn Adams, sy voormalige medebeskuldigde, het op 17 Augustus 2017 ’n vergadering bygewoon wat by Goodhope Tyres in Mitchells Plain gehou is.

Op dié byeenkoms met lede van die 27’s-bende is die moord op die slagoffer in sy huis in Constantia beplan.

Die samesweerders het besluit Adams sou die sneller trek. Cupido sou die getaway-drywer wees.

Op die aand van die moordaanslag het die beskuldigde en Mathew Breet mekaar ontmoet om voertuie te ruil.

Breet het Cupido en Adams die uitleg van die slagoffer se huis gegee en besonderhede oor hoe om toegang tot die perseel te verkry. Breet het beklemtoon die girlfriend en kind van die slagoffer sou by die huis wees, maar hulle moenie beseer word nie.

Cupido en Adams het die moord gepleeg en daarna huis toe gegaan.

Die volgende oggend is Cupido R35 000 betaal vir sy rol in die moord.

In afsonderlike sake wat met dié moord verband hou, het die hooggeregshof Adams en Breet onderskeidelik tot 25 jaar en 20 jaar gevangenisstraf gevonnis vir hul aandeel in die saak.

In sy argument ter verswaring van die vonnis het die staatsaanklaer, adv. Mervyn Menigo, aan die hof gesê die voorkoms van bendeverwante moorde, veral in die Wes-Kaap, het algemeen geword.

Gruwelik

“Die moord is voorbedag en gepleeg ter bevordering van ’n sameswering en in samewerking met ’n misdadige bende.

“Die omstandighede van die moord is gruwelik omdat die slagoffer se huis binnegedring is en hy talle kere op ’n kort afstand geskiet is terwyl hy langs sy girlfriend en jong kind aan die slaap was,” het Menigo aangevoer.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters