29 dae gelede
Ou erken hy moor meisie
Zieglyn Fortuin  ~ Foto Verskaf

’N JONG pa van die Weskusdorp Koeke­naap geniet nog sy vryheid nadat in die hof erken het hy’t sy kinders se ma bewusteloos geslaan, haar afgewas en toe in die bed gelos.

Maxville Cloete is vandeesweek in die Vredendal Landdroshof skuldig bevind aan die moord op sy meisie, Zieglyn Fortuin (20).

Zieglyn is op 3 November 2018 aangerand.

Cloete het in ’n pleitverduideliking aan die hof gesê nadat hy sy twee kinders se ma aangerand het, is hy werk toe.

Zieglyn se pa, Christo Fortuin, het sy kind by Cloete se wendyhuis gaan soek.

“Dit was ’n dag ná die aanranding. Die deur van die hokkie was toegesluit. Ek het deur ’n opening in die wendyhuis my kind se voete gesien.

“Die manier hoe sy gelê het, het my laat dink iets is verkeerd.”

Christo het die hok se deur oopgebreek en vir Zieglyn bewusteloos aangetref.

Sy is toe na die Vredendal Hospitaal geneem en later na die Tygerberg Hospitaal oorgeplaas.

“Die Dinsdag het ons haar in die hospitaal besoek en later die aand is ons Lutzville toe. Ons het toe ’n huisdiens gehou en vir haar gebid.

“Die hoop was groot, maar die Here het van beter geweet.”

Cloete is skuldig bevind aan moord. Die saak is tot 9 Januarie uitgestel vir voorvonnisverrigtinge.

Cloete, wat op borgtog van R1 000 uit was, se borgtog is net verleng. Die hof het gehoor daar moet eers reëlings getref word vir sy tweejarige kind, wat in sy sorg is.

Davine Cloete, ’n gemeenskapslid en aktivis, sê Zieglyn se moord is een van vele waar die polisie en die regstelsel vroue faal.

“Ons vra altyd die howe en polisie om sterk op te tree teen die moordenaars. Zieglyn het baie sake gemaak teen haar kêrel.

“As die polisie werk van die sake gemaak het, kon sy nog gelewe het.”

Davine het inwoners gevra om nie hulle rûe op slagoffers van gesinsgeweld te draai nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters