21 dae gelede
Ou doodgelem oor ’n tip
Ashwin Khan (23)  ~ Foto Verskaf

DIE lewe van ’n jong pa van Parkwood was maar net ’n R5 werd.

Dis die klein muntstuk wat vir jou skaars ’n pakkie cheap chips en ’n los entjie kan koop.

Ashwin Khan (23) is Dinsdagaand buite die Spar in Grassy Park doodgesteek.

Khan, die pa van ’n jong seuntjie, en nog ’n skarrelaar het na bewering gestry oor ’n R5 nadat hy ’n goeie tip gekry het.

Handgemeen

Die verdagte en Khan het handgemeen geraak, waarna hy ’n mes uitgeruk en Khan in die bors gesteek het.

Khan het probeer weghardloop, maar het inmekaar gesak en is later dood.

Op die moordtoneel kon die muntstukke gesien word waar dit langs Khan se lyk gelê het.

Die voorval het omstreeks 19:00 in Victoria Road gebeur.

Die cops se flinke optrede het daartoe gelei dat die 24-jarige verdagte kort ná die voorval gearresteer is.

Volgens Khan se pa, Clive, wat Dinsdagaand op die moordtoneel was, het hy motors opgepas.

Clive sê: “Hy het iemand gehelp wat inkopies by Spar gedoen het.

“Die ander ou wat ook ’n car guard is, het gesien hy kry ’n lekker tip.

“Die ou wou toe ook van die geld hê en Khan het geweier.

“Die ou het hom toe een hou in die hart gesteek en hy is op die toneel dood.”

Jerome Lewis (28), wat ook ’n car guard is, het na verneem word gesien wat gebeur het.

Lewis sê: “Hulle al twee is skarrelaars, maar ek het nie die ander ou wat dood is, geken nie.

“Hy was maar nuut hier. Hulle twee het gestry en toe mekaar voor die bors gegryp.

“Hy het ’n groen baadjie soos ek aangehad. Die ander ou het hom een keer in die bors gesteek.

“Hy het nog probeer weghardloop en het in die pad inmekaar gesak, waar hy dood is.”

Geskiet

Volgens Mihlali Majikela, ’n polisiewoordvoerder, sal die verdagte binnekort in die Wynberg Landdroshof op ’n klag van moord verskyn.

Intussen gaan die ondersoek rondom die omstandighede van die moord voort.

  • Die cops is ook besig om ’n moord wat Dinsdagaand in Mitchells Plain plaasgevind het, te ondersoek.

Volgens Majikela het die voorval 20:35 in Taaibosstraat, Lentegeur, gebeur.

Die 24-jarige man is verskeie kere raak geskiet en is op die toneel dood.

Niemand is nog gearresteer nie en ’n moorddossier is aangelê.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters