7 dae gelede
‘Ou brood’ ontstel antie
GEEN MANIERE: Faizah Ahmed is nie net ontevrede oor die “ou brood” nie, maar ook die winkeleienaar se houding.  ~ Jonathan Lestrade

OU BROOD was toe nie die antwoord vir ’n honger maag nie.

Faizah Ahmed (53) van die woonbuurt Groendal in Franschhoek is baie onte­vrede oor ’n spaza shop wat na bewering ou brood wat lyk of rotte daaraan geknaag het, aan haar verkoop het.

Ahmed vertel sy het Maandagaand haar kleindogter na die winkel gestuur om ’n halwe brood te koop omdat sy honger was.

Toe sy vir haar later brood wou maak, sien sy die brood lyk asof daaraan geëet is.

Ahmed vertel sy het eers die volgende dag die brood teruggevat na die winkel omdat die winkel reeds toe was toe hulle besef die brood is oud.

Volgens Ahmed wou die winkeleienaar niks van haar hoor nie en het geweier om haar te help.

“Ek het toe maar weggestap.”

Ahmed beweer dit is nie die eerste keer dat hulle ou produkte aan die in­woners verkoop nie.

“Die enigste rede hoekom ek die brood daar gekoop het, is omdat dit die enigste winkel naby is wat halwe brode verkoop.”

Ahmed is ook ontsteld oor sy nou ’n halwe brood se geld verloor het.

GELD GEMORS: Ahmed sê dit lyk asof rotte al voor hulle aan die snye brood begin vreet het. Foto: Jonathan Lestrade

Volgens haar verkoop hy nie net ou produkte nie, maar sy beweer ook die man het nie ’n manier om met mense te praat nie.

Sy beweer: “Hy is onbeskof en het ’n lelike houding, veral teenoor die kinders,” sê sy.

Probleem

Faisel Mia, ’n buitelander wat die winkel besit, sê die meisiekind het die brood gekoop.

“Hulle het toe net ’n paar snytjies teruggebring en gesê die brood is oud.”

Volgens Mia het hulle klaar die ander snytjies opgeëet.

Mia beweer ook Ahmed het sedert die lockdown ’n probleem met hom en hy weet nie waarom nie.

Mia hou egter voet by stuk dat hy elke dag vars brood kry en hy sal nooit ou brood aan enige een verkoop nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters