Verlede maand
Ou aspris kaal - mayor
ONDERSTEUNING: Die inwoners van Makhaza in Khayelitsha het in solidariteit met Bulelani Qholani buite die burgersentrum geslaap.  ~ Lulekwa Mbadamane

DIE Stad Kaapstad is in die sop oor die man wat kaal uit sy shack geruk is.

Son het Vrydag berig dat Bulelani Qholani (28) Woensdag deur wetstoepassers uit sy shack gesit is terwyl hy nog besig was om te bad.

Die voorval is op video vasgevang en wyd in die sosiale media versprei.

Eerw. Chris Nissen, ’n kommissaris van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie, was Donderdag in Khayelitsha as deel van sy ondersoek na die voorval.

Die vier betrokke beamptes wat vir Qholani getakel het, is Donderdag hangende ’n ondersoek geskors.

Beplan

Dit het egter Vrydag gegons nadat dit aan die lig gekom het dat die Stad glo beplan om die suspensions op te hef.

Die Kaapstadse uitvoerende burgemeester, Dan Plato, het Donderdagaand in ’n regstreeks TV-onderhoud gesê Qholani het beplan om kaal uit te trek sodra die wetstoepassers op sy shack toesak.

Plato se aantygings op die nasionale platform het gekom nadat die mayco-lid belas met veiligheid en sekuriteit, JP Smith, foto’s op sy WhatsApp-status gedeel het. Die caption van die foto’s lui: “Oomblikke voor die anti-land invasion-operasies begin het, het Bulelani sy klere aan.

“Sodra die kameras reg is, is hy kaal en besig om te bad?”

VIES: Bulelani Qholani kan steeds nie glo wat hom oorgekom het nie. Foto: Lulekwa Mbadamane

Joernaliste het Smith aangevat op die Stad se media-WhatsApp- groep oor sy uitlatings.

Smith reageer toe dis foto’s wat mense aan hom gestuur het.

Om dinge te vererger vir die Stad is daar Vrydagoggend deel van ’n gesprek tussen Smith; die mayco-lid belas met behuising, Malusi Booi; en die streekskoördineerder vir informele nedersettings, Anton Terblanche, wyd in die sosiale media gedeel.

In die WhatsApp-gesprek deel Smith ’n foto wat wys dat Qholani se bure sy shack herbou.

Terblanche sê daarop: “Onwettige struktuur dan?

“Dit moet weer afgebreek word. Met of sonder die kaal man.”

Booi reageer toe: “Ja.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters