Verlede maand
Ou afgehaal ná hy moord sien
KYK DEEGLIK: ’n Ondersoeker maak verlede week seker hy laat steen onaangeroer terwyl hy na leidrade soek nie.  ~ Peter Abrahams

EEN van die mense wat ’n getuie was toe ’n swanger vrou onlangs in Scottsdene doodgeskiet is, is oor die naweek stilgemaak.

Sondagoggend is die lyk van Alfredo Titus (26) in Bernadino Heights, Kraaifontein, gevind. Sy oorskot het naby die hoek van Canola Crescent en Cassidy­straat gelê.

Iemand wat verbygeloop het, het op Titus se lyk afgekom. Hy was verskeie kere in die gesig geskiet.

Dit lyk asof Titus in die middel van die nag doodgeskiet is.

Titus is een van twee getuies wat sou getuig het nadat Shahieda Nathan van Scottsdene meer as twee weke gelede doodgeskiet is. Sy was agt maande swanger.

Sy en twee ouens is in ’n hokkie geskiet nadat gangsters na bewering twee ander ouens agternagesit het en hulle toe verkeerdelik vir dié ouens aangesien het.

Die ouens in die hokkie het die voorval oorleef.

Die drie slagoffers was na verneem word onskuldig en bloot op die verkeerde tyd op die verkeerde plek.

Titus het gewoon in ’n huis in Klipbokstraat in Scotts­dene.

Dis waar die eerste voorval plaasgevind het. Hy het na bewering die skieters geken.

Die inwoners van die huis wou laas week nie met Son praat nie omdat hulle dink hul lewe is in gevaar en die gangsters hou hulle dop.

Volgens ’n bron na aan die ondersoek was lede van die bende-ondersoekeenheid Sondag en gister kliphard op soek na die tweede getuie oor sy lewe ook in gevaar is. Hy is opgespoor en in veilige bewaring geplaas.

Laas week het lede van die bende-ondersoekeenheid en ’n forensiese span na die moordtoneel teruggekeer.

Hulle het die misdaadtoneel herkonstrueer sodat die saak na die Kaapse hooggeregshof toe kan gaan.

Uitgestel

Dis om seker te maak dat geregtigheid geskied.

Jeremia Fortuin en Ricardo Cloete (albei 38) is intussen vir die moorde gearresteer. Hulle het verlede Maandag in die Blue Downs-landdroshof verskyn.

Die saak is uitgestel tot môre om die beskuldigdes die geleentheid te gee om ’n prokureur aan te stel.

’n Woordvoerder van die polisie, kapt. FC van Wyk, het bevestig dat die polisie die omstandighede rondom die dood van ’n 26-jarige man ondersoek.

Van Wyk het gesê: “Die liggaam is Sondagoggend met ’n kopskoot op die hoek van Canola Crescent en Cassidystraat in Bernadino Heights aangetref. ’n Saak van moord is geregistreer om ondersoek te word.

“Enige een met inligting word gevra om AO Gavin Abrahams by 021 980 5558 te bel, of Crime Stop by 08600 10111.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters