Verlede maand
Ou admin fout sit laitie koud
Nederig: Bradley help sy blinde ouma om te sit.  ~ Melinda stuurman

’N FOUTIEWE identiteitsdokument hou die toekomsplanne van ’n jong man van Bishop Lavis­ wat graag ’n lawyer wil word, hostage.

In 2018 het Bradley Herold (19) met univer­siteitstoelating aan die Hoërskool Bishop Lavis geslaag.

Nou moet hy toekyk hoe sy alma mater vooruitgaan terwyl hy op Home Affairs wag vir sy nuwe ID.

Op sy geboortesertifikaat is Bradley se geslag as vroulik geregistreer.

“My ma het my geboorte opgegee toe ek ’n baba was.

“Eers toe ons in die trek­kery tussen Robertson en Bishop Lavis by ander skole moes inskryf, het ons die fout agtergekom.”

Bradley vertel hy is met die bewys dat hy vir ’n nuwe ID aansoek gedoen het en die geboortesertifikaat toegelaat om matriekeindeksamen te skryf.

“Ek het R70 betaal om die geslagsfout op die ID reg te maak. Dit was in Junie 2018.”

Sedertien is hy al telkemale na die kantoor in Bellville, waar hy vir die nuwe ID aansoek gedoen het. Hy het ook al vele kere gebel.

“Elke keer sê hulle net dit word nog geprocess.”

Anna Herold (52), Bradley se ma, is stom. Sy en Bradley woon saam met haar ma, Yvonne Herold, en dié se man. Yvonne is blind.

“Ek meen maar, die lewe is hard en nou kan ek nie eens my familie help nie.

“Ek kan nie aansoek doen vir werk nie en ek kan ook nie gaan studeer nie.

“Ek weet nie meer watter kant toe nie. Ek hoop net daar is iemand wat my kan help.”

Bradley sê hy voel moedeloos – veral as hy sien hoe sy skoolmaats vorder.

Een van Bradley se vriende wat net so raadop is met die penarie het Son vir hulp gebel.

Son het reeds ’n week gelede ’n e-pos oor Bradley se dilemma gestuur aan die provinsiale bestuur van die departement van binne­landse sake.

Daar is ook vele kere gebel en ’n twiet is gestuur.

Vrydag het binnelandse sake toe soos volg geantwoord: “Die betrokke navraag is gestuur na die eenheid wat sulke tipe probleme hanteer. Ons sal ondersoek instel.

“Ons sal die kliënt kontak met die oog daarop om die probleem uit te sorteer.

“Kan u asseblief die kontakbesonderhede van die man aanstuur?”

Son het toe so gemaak en hoop saam met Bradley dat sy toekoms spoedig afgestof kan raak.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters