21 dae gelede
Oranje overalls ’n groot raaisel
KYK NET: Meer en meer van die oranje overalls word ontdek.  ~ Skermgreep

“ONS dog dan dis ’n klomp lemoene ...”

Só sê ’n antie heel verbaas terwyl sy in ongeloof toekyk hoe ’n klomp helderoranje tronk-overalls in ’n oop stuk veld opgetel word.

Die hele gemeenskap van Tafelsig is behoorlik in rep en roer oor dié rare vonds wat nie van ’n boom kom nie, maar eerder van agter tralies.

Aangegroei

Dit is ook nie sommer net een of twee overalls wat ontdek is nie.

Dit het eerder soos wasdag in Pollsmoor gelyk soos die hoop aangegroei het namate nog ontdek is.

Nou worry die mense.

Aan wie behoort hierdie tronkpakke?

Nog erger, is die oranje oogseer nie dalk met Covid-19 besmet nie?

Luidens inligting het inwoners die afgelope Vrydag op hierdie hengse vrag oranje overalls afgekom toe kinders in die area daarin begin speel en soos wafferse Klopse-troepe daarin geparadeer het.

In die video wat in Son se besit is en op Son se website gekyk kan word, hoor ’n mens hoe die antie sê sy het gedink “dis ’n klomp lemoene, die orange goete”.

’n Gemeenskapsaktivis, Joanie Fredericks, sê gister sy is diep bekommerd oor die klere.

“Ek is erg bekommerd oor die tronkpakke wat hier gevind is.

“Wie sê dit is nie escapees wat hier kom klere ruil het nie? ’n Mens weet mos die jongens kan nie ongesiens bly as hulle daai tronkklere dra nie.”

Fredericks sê as dit wel die geval is, gaan sy beslis nie die saak net daar laat nie.

Sy vaar uit: “Dit beteken dat daar meer misdadigers in ons area is.

“Die departement moet kom skoonmaak, want ons soek dit nie hier nie.

“Ons het al klaar genoeg om oor te worry.”

Fredricks sê dit maak haar kwaad, want die klere kan moontlik besmet wees.

Verantwoordelik

“Almal weet al die tronkstelsel is in sy tjops. So, as dit van daar kom, is daar ’n moontlikheid dat die klere wel besmet is.

“As dit so is, voel ek die kinders wat so in die klere gespeel het, moet getoets word of na ’n dokter toe gestuur word.

“Die departement moet verantwoordelik vir die koste wees, want daai selfde kinders gaan skool toe tussen ander kinders.”

Mosele Sehloho, ’n woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste, bevestig egter die hoop oranje overalls wat op die oop stuk veld gevind is, is nie deel van hul oortreders se uniforms nie.

Sehloho verduidelik: “Ons gebruik nie op ons overalls of op enige van ons ampte­like klere die term ‘gevangene’ nie.

“Ons gebruik die terme ‘offenders, inmates’ of ‘remand detainees’.”

Dit bly nou ’n ope vraag: Waar kom die overalls dan vandaan en wie het dit daar kom dump?

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters