16 dae gelede
KYK: Optrede nou noodsaaklik
almal staan saam: Studente met plakkate betoog gister by die kampus teen geweld teen vroue.Foto: JONATHAN LESTRADE  ~ 

’n Sagmoedige, godsdienstige mens wat nie sou toelaat dat oor haar geloop word nie.

Só het die vermoorde Lynette Volschenk se vriende, familie en kollegas haar Maandagaand in ’n gedenkdiens onthou.

Die diens is gehou by die Seesig-woonstel in Bellville, waar sy gewoon het en ook vermoor is.

Volschenk is voorverlede week in haar woonstel vermoor. Van haar opgesnyde liggaamsdele is in haar woonstel in swart sakke gevind. Party daarvan is ook in haar vermeende killer, Kyle Ruiters, se flat, ook in Seesig, gevind.

Johan Roos, Seesig-inwoner, sê hy hoop dat iets goeds uit die voorval kan kom. “Miskien sal bure beter uitkyk vir mekaar.”

Nóg ’n inwoner van die flats en ’n werksvriend van Volschenk, Rosa Afrika-Breda, sê sy was veral geskok om uit te vind Ruiters is die vermeende killer.

“Ek en Lynette woon albei al jare in die woonstelle. Kyle het voor ons grootgeword. Ons ken hom.”

Sy sê sy en Volschenk het mekaar se deurkosyne platgeloop. “Sy was die Maandag voor sy die Woensdag vermoor is, nog by my.”

Volschenk word Saterdag uit die Nuwe Apostoliese Kerk in Parow begrawe. - berig Shantel Moses

Leon Bonthuys berig:

Honderde studente het gistermiddag by die Universiteit van Kaapstad byeengekom oor die veiligheid van vroue-studente.

Dit volg ná die moord op die Ikey-student Uyinene Mrwetyana (19).

Die studente het haar lewe gedenk, maar gemaan owerhede moet optree om vroue te beskerm.

Gister op die kampus van Ikeys het studente plakkate in die lug gehou en gesing.

Een van die studente wat die optog help reël het, Nomandla Vilakazi, sê dit gaan ook oor veiligheid op kampusse.

“Studente is nie veilig nie en talle meisies is al op die kampus verkrag, terwyl niks daaraan gedoen word nie.”

Betoog

Verkragtings op die Ikey-kampus, sowel as landwyd, was verlede jaar ook baie in die kollig.

Die verdagte word aangehou en hy verskyn op 5 November weer in die Wynberg-hof. 

Tracy-Lynn Ruiters berig:

“Ons het ons vroue gefaal en daarom is ons trash.”

Met dié woorde vertel Rodney “Scara” Brown dat hy nie gaan ophou betoog nie. Dit kom nadat nóg ’n onskuldige vrou skaars 24 uur nadat Vrouemaand geëindig het, verkrag en vermoor is.

Brown, ’n inwoner van Mitchells Plain, het gister ’n vergadering gereël waar gatvol inwoners met plakkate teen vrouemishandeling op die hoek van Morgenster- en Jakes Gerwel-rylaan betoog het.

“Ons as mans het nie genoeg gedoen om ons vroue te beskerm nie. Vir te lank het ons dit toegelaat. Ons het hulle gefaal.”

Brown sê hy hoop dat mense nie sommer oor die naweek van die baklei sal vergeet nie.

“Die tension is nou hoog, mense is kwaad en dis nog rou, maar sal ons steeds so baklei sodra volgende week kom?”

Brown sal ook vandag op dieselfde plek staan.

Mense word gevra om saam te kom betoog. 

los ons af! Selfs die weerlose kinders van Mitchells Plain sê hulle staan ook in die spervuur.Foto: TRACY-LYNN RUITERS
almal staan saam: Studente met plakkate betoog gister by die kampus teen geweld teen vroue.Foto: JONATHAN LESTRADE
gatvol: Inwoners van Mitchells Plain het gister soos een man gestaan. Foto: TRACY-LYNN RUITERS
Hartseer: Rosa Afrika-Breda word hier getroos deur ’n onbekende rouklaer. Foto’s: Peter Abrahams
troos mekaar: Inwoners van die Seesig-woonstelle in Bell­ville omhels mekaar by ’n gedenkdiens vir Lynette Volschenk.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters