7 maande gelede
Op die regte spoor
veiligheid eerste: Die nuwe wagte wat aangestel is, deursoek Metrorail se treine.Foto’s: STAD KAAPSTAD  ~ 

DIE Rail Enforcement Unit (REU) is sedert sy ontstaan in Oktober 2018 op die regte spoor.

Dr. Blade Nzimande, nasionale minister van vervoer, het die eenheid gelaunch. Sedertdien is daar talle arrestasies gedoen.

Die Stad Kaapstad, die Wes-Kaapse regering en die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) befonds die REU gesamentlik.

Die Stad het verlede jaar nóg 100 beamptes aangestel om op die treine te help.

Luidens ’n gesamentlike verklaring van die Wes-Kaapse departement van vervoer en openbare werke, Metrorail Wes-Kaap en die burgemeester van Kaapstad, Dan Plato, het die REU verskeie uitdagings gehad.

Keuse

Van die uitdagings sluit vandalisme en diefstal van infrastruktuur in, asook sabotasie van die netwerk en aanvalle op werkers en pendelaars.

Plato sê die Moederstad verdien ’n veilige en betroubare spoorwegstelsel.

“Die spoorweg moet die pendelaars se eerste keuse wees om te pendel omdat dit bekostigbaar en doeltreffend is.

“Met die resultate wat die REU behaal, gee dit my moed dat die spoorwegdiens oor die volgende paar maande sal stabiliseer.

“As daar minder misdaad en vandalisme is, kan ’n mens verwag daar sal ook minder vertragings en kansellasies wees.

“Meer mense sal dan weer van treinvervoer gebruik maak as van padvervoer.”

Die afgelope twee maande is 36 mense gearresteer weens aanranding, die besit van dwelms en gesteelde goed, beskadiging van eiendom en diefstal.

Die beamptes het ook gesteelde kabels van 379,5 m en 800 kg se spoorwegseinkabels teruggekry.

Smokkelgoed en gesteelde goed soos selfone, laptops en alkohol is ook gekry.

Voorsiening

Plato sê minstens 6 arrestasies is gedoen ingevolge Wet nr. 18 van 2014, die Wysigingswet op Strafregtelike Aangeleenthede.

kom saam: Een van die spoorweg se nuwe veiligheidswagte lei ’n geboeide verdagte weg.

“Dit maak voorsiening vir mense wat infrastruktuur beskadig, en tronkstraf van tot 30 jaar kan toegepas word.”

Die REU werk saam met die streekbeskermingseenheid van Prasa.

Saam word meer mense deursoek en is die beamptes sigbaarder op treine.

Richard Walker, streekbestuurder van Metrorail in die Wes-Kaap, sê met die suksesse wat nou behaal word, sal die volgende mikpunt wees om scrap dealers wat nie saamwerk nie, vas te vat.

“Tans word daar geen vrae gestel as mense met koper by die scrap dealers opdaag nie.”

Die publiek word ook gevra om saam te werk en enige vandalisme en misdaad te rapporteer.

Daar word belonings van tot R25 000 uitgeloof vir mense wat inligting verskaf wat tot vonnisse lei.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters