4 maande gelede
‘Oompie’ se tyd nou min

“DAVID ‘Oompie’ Cupido en ál sy agente wat hom in sy Ponzi-skema gehelp het, gaan binnekort almal gearresteer word.”

Só sê die leiers van die groep beleggers Gatvol Pay Back the Money.

Christopher Martin en nog ander leiers het Donderdag die Valke by hul kantore in Bellville besoek.

Die staatsaanklaer verantwoordelik vir die saak was ook teenwoordig, sê Martin.

Volgens hom het hulle nóg bewyse en verklarings aan dié twee partye oorhandig sodat die saak spoedig afgehandel kan word.

Martin het bevestig die staatsaanklaer het al ’n klagstaat opgetrek. Die direktoraat van openbare vervolging (DOV) moet dit glo nog net afteken.

Hy sê: “Die staatsaan­klaer sê hy is redelik tevrede met die stand van sake.

“Hy is ook dankbaar vir my en my span wat hulle help met die pro forma-dokumente en evidence wat in die saak gebruik kan word.

“Daar is nog ’n paar groot name (agente) wat miljoene het of gekry het, maar daar is geen pro forma hiervoor nie. Ek en my span is tans kliphard besig om dit te probeer kry.

“Daar is van die agente wat beleggers daarteen vermaan om met my te kommunikeer.

“Hulle belowe die mense nou daar sal op 29 Februarie uitbetalings gedoen word.

“Die laaste woorde van die staatsaanklaer aan my was dat die arrestasies moontlik vroeër as later gaan gebeur.”

Volgens Martin verloor baie van die beleggers nou hul geduld met Cupido en van Beaufort-Wes se beleggers wou hom in Desember gaan doodmaak.

Dis nadat hy wéér nie uitbetaal het nie – soos dit die afgelope drie jaar die geval was. Hy sou op 18 Desember uitbetaal en het dit in ’n YouTube-video aan 12 000 beleggers belowe.

Selfmoord

Hy sê: “Baie van die beleggers het skuld op hul aftreefondse gemaak om in hierdie skema te belê.

“Daar is mense wat hul laaste geld gevat het met die hoop om dit te verdubbel.

“Ek weet van mense wat selfmoord gepleeg en selfs hul hele gesin uitgewis het oor hulle geld verloor het in 4th Power Investments.

“David belowe vanaf 2017 al om uitbetalings te doen.

“Daar is hoeveel vergaderings in die openbaar gehou.

“Daar is belowe dat uit­betalings in 2018, 2019 en op 18 Desember 2020 gedoen sal word en nog steeds wag ons.

“Daar is aan ons belowe ons sal ’n maandelikse groei van 116% in rente sien. Tot dusver was daar nog niks nie.”

Toe Son laat verlede jaar Cupido by sy huis in Touwsrivier besoek het, wou hy nie uit sy huis kom nie.

Sy broer het gesê ons moet ’n afspraak maak.

Toe ons wel ’n afspraak maak, is ons ingelig hy is reeds vol bespreek.

Son verneem egter van verskeie beleggers dít is wat Cupido doen om hulle ook te vermy.

Zinzi Hani, woordvoerder van die Valke, het bevestig daar is Donderdag ’n vergadering tussen die Valke en die beleggers gehou.

Volgens Hani is die dossier steeds by die Valke en wag hulle nou vir ’n beslissing.

Hani sê in die vergadering is die beleggings meegedeel hoe die ondersoek vorder en wat die volgende stappe is.

Son se pogings om Oompie op te spoor, was vrugteloos. Al drie selfoonnommers van hom wat voorheen in gebruik was, bestaan nie meer nie.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters