5 dae gelede
Oom se lyk is toe net spoorloos
Jacobus Sampies
DOOD: Jacobus Sampies se familie sê hulle was nie daarvan bewus dat hy al op pad hospitaal toe gesterf het nie.  ~ Verskaf

’N FAMILIE van Eersterivier moes 10 dae lank na hul geliefde se lyk soek nadat dit vermis geraak het.

Jacobus Sampies se vrou, Margaret, en sy dogter, Edwina, is van bakboord na stuurboord gestuur op soek na sy oorskot, vertel hulle aan Son.

Nadat hy op 11 Julie siek geraak het, is hy met ’n ambulans na die Tygerberg-hospitaal oorgeplaas, sê Edwina.

Maar met die hulp van Son het hulle eers gister uitgevind hy het nooit die hospitaal gehaal nie.

Volgens die hospitaal se woordvoerder, Laticia Pienaar, is Jacobus al op pad hospitaal toe dood.

Pienaar sê die mediese nooddienste het hom na die massa-lykshuis by die forensiese eenheid geneem.

Dít het die familie nooit eens geweet nie. Hulle was onder die indruk dat hy by die Tygerberg-hospitaal tot sterwe gekom het.

Jacobus se dogter, Edwina, het aan Son vertel wat gebeur het toe haar pa van ’n pyn op die bors gekla het.

Sy vertel: “My pa se vriend het hom na die Eersterivier-hospitaal geneem, want ons kon nie nog vir die ambulans wag nie.

“Toe ons daar kom, kon niemand van ons ingaan nie.

“Hy is alleen in en ons het nog sy ID saam met hom gestuur.

“Die aand het die hospitaal my ma gebel om te sê hy is na Tygerberg oorgeplaas.”

Edwina sê van daar af het alles begin afdraande gaan.

By die Tygerberg-hospitaal kon niemand hom op die stelsel vind nie.

Toe hulle die Eersterivier-hospitaal kontak, is daar aan hulle gesê Jacobus was in die intensiewesorgeenheid van Tygerberg, voeg sy by.

Maar toe hulle Tygerberg kontak, kon haar pa nêrens op die stelsel gevind word nie, sê Edwina.

Sy vertel: “My antie-hulle werk ook by die hospitaal en ons het vir hulle gevra om te kyk waar my pa is.

“Hulle het na hom gesoek, maar hy’s nêrens gekry nie.”

Margaret sê toe sy Vrydag besluit om self tot by die hospitaal te gaan, moes sy hoor haar man is dood en sy lyk lê in die Covid-19-lykshuis.

Maar sy is steeds nie toegelaat om haar man se lyk te gaan uitken nie, sê sy.

Margaret sê sy het toe maar besluit om hul begrafnisondernemer in kennis te stel en hom gevra om haar oorle man se lyk te soek.

Oopsny

Volgens haar het hy haar Dinsdagaand laat gebel om te sê sy moet papiere kom teken, want Jacobus se lyk is gevind.

Hieroor sê sy: “Ek’t gesê ek teken niks totdat ek my man se lyk gesien het nie.

“Ek kan nie teken, dan is dit nie eens my man se lyk nie!

“Ek sal sommer self daai sak oopsny, want ek wil sy gesig sien.”

Edwina het egter gistermiddag voor saktyd Son in kennis gestel dat hulle haar pa se oorskot by hul begrafnisondernemer positief uitgeken het.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters