13 dae gelede
Ontvoerde kids: Syfers skok
TRAGEDIE: Dít is die beelde wat baie ouers nie uit hul koppe kan kry nie – as die polisiebeamptes en die gemeenskap na hul vermiste kind begin soek.  ~ Foto’s ter illustrasie: Melinda Stuurman

VERKRAG, vermoor, ontvoer, deur ’n dwaalkoeël getref of steeds skoonveld.

Dis die donker skande wat die Wes-Kaap omhul omdat ons kinders hier nie van hul onskuldige lewe verseker kan wees nie.

Skokkend genoeg is daar oor die afgelope vyf jaar al byna 700 kinders in die provinsie ontvoer.

Telkemale berig die media oor nóg ’n onskuldige kleinding wat sy of haar lewe aan die hand van ’n gewetenlose geweldenaar verloor het – dikwels op die ondenkbaarste rou en vieslike manier.

Dan is daar die ander seer wat net so diep sny en aanhou seer bly – kinders wat soos mis voor die son verdwyn en ouers wat geen closure kan kry oor wat met hul kind gebeur het nie.

Dis vermiste kinders wat ’n cold case-statistiek word.

Gefokus

Mireille­ Wenger, die DA-hoofsweep in die Wes-Kaapse wetgewer, het vroeër dié week in ’n verklaring onrusbarende syfers oor die ontvoering van kinders in die Wes-Kaap uitgereik.

Sy het op die tydperk van 2015 tot 2020 gefokus.

Die byna 700 kinders wat in dié tydperk ontvoer is, maak van die woord ontstellend ’n under­statement.

Wenger sê: “In hierdie tydperk is altesaam 3 482 mense ontvoer van wie 696 kinders is.”

Wenger sê wat kommerwekkend is, is dat die statistieke veronderstel is om af te plat, maar dit bly stabiel.

“Die trauma en verwoesting wat hierdie wrede misdaad veroorsaak, moet aktiewe aandag van die owerhede kry. Dis noodsaaklik.”

Wenger sê: “Die departement van gemeenskaps­veiligheid sal kinderont­voerings met behulp van die program Court Watching Briefs prioritiseer en monitor.

“Dis bemoedigend dat dié departement met die provinsie se kinderkommissaris saamwerk om ’n opsporing-instrument te ontwikkel juis vir die cold cases.

“Dis om te verseker dat sulke misdade behoorlik deur die strafregstelsel vervolg word.”

Wade Seale, ’n woordvoerder van die departement van gemeenskaps­veiligheid, bevestig dat hulle van plan is om die monitering van kinderontvoerings te prioritiseer.

Plaas

“As gevolg van die toenemende voorkoms van kinderontvoering sal ons ’n program ontwikkel om in samewerking met die Wes-Kaapse kinderkommissaris en die departement van maatskaplike ontwikkeling te werk.

“Tans het ons nie ’n spesifieke fokus op kinderontvoerings nie. Maar ons plaas nou die fokus daarop.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters