13 dae gelede
Ontuis in huis oor taxi-twis
HELE PLEK VOL: Codeta-taxi-drywers parkeer nou hul taxi’s in die woongebied.  ~ Peter Abrahams

“ONS is bang!”

Só sê inwoners van Bellair in Bellville noudat taxi-drywers reg voor hul huise parkeer.

Op die oomblik parkeer Codeta-taxi-drywers in die residensiële gebied en Cata se taxi-drywers staan by die rank.

“Ons voel baie onveilig in ons eie huise as gevolg van al die taxi-verwante skietvoorvalle wat onlangs plaasgevind het.

“Ons weet nie waar om ons koppe weg te steek nie,” sê ’n inwoner wat anoniem wil bly.

Die vrou sê dit gaan al langer as ’n maand so aan.

Sy verstaan dit is omdat daar op die rank nie genoeg plek is vir al die taxi’s nie, maar sy voel dit is onregverdig dat hulle nou met so ’n situasie gekonfronteer word.

“Ek bly al meer as 20 jaar hier en ek het nog nooit in my eie huis so bang gevoel nie.

“Hier kan op enige oomblik geskiet word.

“Dit laat ’n mens ongemaklik voel,” sê sy.

Die vrou sê verder daar is geen openbare toiletgeriewe nie, so mense se huismure word nou as ’n toilet gebruik.

“Daar is ook nou met vullis ’n probleem.

“Ons eie familie wil nie eens kom kuier nie.

“Ek kry op­roepe van familielede wat vra of dit nou veilig is om te kom kuier. Wie wil so leef?” vra sy.

Nog ’n inwoner, wat ook anoniem wou bly omdat sy vir haar en haar familie se veiligheid vrees, sê inwoners se privaatheid is weggeneem. “Die drywers parkeer regoor jou huis en kan tot binne-in jou huis sien.

“Mense sukkel om by hul eie driveway uit en in te kom, maar is te bang om enige iets te sê.”

Bonginkosi Madikizela, Wes-Kaapse minister van vervoer, sê hy weet van die situasie in Bellville.

“Codeta moet binne die wet en in terme van hul bedryfslisensievoorwaardes funksioneer. Ons weet nie wie hulle toestemming gegee het om hul taxi’s op Stadsgrond te bedryf nie.

“As die Stad nie toestemming gegee het nie, moet die Stad die wet toepas.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters