2 maande gelede
Ontploffing ruk fabriek
traumaties: ’n Huilende werker word gister gehelp terwyl sy die perseel verlaat.Foto’s: jonathan lestrade  ~ 

TEN minste agt mense is gistermiddag dood in ’n ontploffing by die wapen-aanleg Denel in Macassar.

Die ontploffing het omstreeks 15:00 gebeur en kon etlike kilometers ver tot in die Strand en Somerset-Wes gehoor word.

Teen gistermiddag 18:00 was elke personeellid “accounted for”, het Theo Layne­, woordvoerder van die Stad se brand-en-reddingsdienste, gesê.

Teen druktyd was die getal mense wat beseer is nog nie bekend nie.

Die gebou waar die ontploffing plaasgevind het, behoort aan Rheinmetall Denel Munition (RDM), met Duitsers wat die grootste aandeelhouers is.

Layne sê hulle het 15 lede van die brandweer en drie brandweerwaens in die gebied ontplooi.

’n Inwoner van die Strand, sowat 14 km vanaf Denel, sê hy was so 15:00 in Shoprite toe hy die ontploffing hoor.

Eltardo van der Horst sê: “Dit was baie hard. Ons het gedink dis ’n gasbottel wat naby ontplof.”

Nog ’n inwoner wat anoniem wil bly, sê: “My vrou was in die kombuis besig toe die ontploffing gebeur. Dit het soos hier langsaan geklink.”

Volgens ’n woordvoerder van Denel SA, Vuyelwa Qinga, was dit ’n “tragiese ontploffing wat ’n brand veroorsaak het”.

Sy kon teen gisteraand nie die dodetal of getal beserings bevestig nie, maar het die maatskappy se innige meegevoel met die naasbestaandes uitgespreek.

Sy sê Denel SA is ’n minderheidsaandeelhouer in RDM, met ’n 49% stake.

RDM het ’n kort verklaring uitgereik waarin hy die ontploffing bevestig.

Die maatskappy het gesê hy sal meer inligting bekend maak soos hy dit ontvang.

Verskeie WhatsApp voice notes van mense wat sê hulle werk by die fabriek en was daar toe die ontploffing gebeur het, het gistermiddag viral gegaan.

Een ou sê: “Die hele gebou het inmekaar gesak en karre se dakke is afgeblaas.”

kaboem: ’n Rookwolk hang in die lug kort ná die ontploffing. FOTO VERSKAF
helpende hand: Chris Nissen troos ’n werker buite die gebou.
hoop: Familie en vriende staan buite die perseel en wag vir nuus.
traumaties: ’n Huilende werker word gister gehelp terwyl sy die perseel verlaat.Foto’s: jonathan lestrade

By Son se besoek aan die toneel gistermiddag het ’n familielid gesê sy is nog op soek na haar broer nadat sy ingelig is haar neef het in die ontploffing gesterf.

Die familielid sê: “My broer het middagskof gaan werk. Ons het nog niks nuus van hom gehoor nie.”

Nog ’n familielid het huilend aan Son gesê haar oom en niggie is ook in die ontploffing dood.

Chris Nissen, ’n deeltydse kommissaris van die SA Menseregtekommissie, was ook op die toneel. Hy het die families getroos en ondersteun.

Motoriste op die N2 kon ’n groot rookwolk in die lug sien en verkeer op dié high­way was erg ontwrig.

Families van die werkers en slagoffers het gisteraand op die toneel saamgedrom en gewag vir inligting oor hul geliefdes.

Volgens gerugte is ammunisie getoets, maar toe loop iets verkeerd.

Die perseel moes onmiddellik verskuif word – Basil Afrika, Tracy-Lynn Ruiters en Ian Baard

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters