INWONERS van Chris Nissen Park ervaar sommer nou al Day Zero – lank voordat dit nog aangebreek het.
Hulle moan oor die Stad Kaapstad se nuwe watermeters sommer onverwags hul water totaal afsny.
Volgens die inwoners word hul water soms vir dae afgesny nadat hulle die bepaalde beperking bereik het.
Sommige van hulle kla dat dit gebeur sedert die blou watermeters ingesit is as deel van die drupstelsel.
Selfs ’n kerk in die gebied is nie gespaar nie, hoewel hy die lewende water van die Woord bedien.
Asof dit nie genoeg is nie, beweer die inwoners dat hul waterrekeninge nou sky-high is sedert die watermeters sonder hul toestemming ingesit is.
Gaynor Adams, ’n gemeenskapsleier, het gesê: “Ek weet nie hoekom hulle (die Stad) die blou watermeters ingesit het nie.
“Dié probleem raak die meeste van die mense in Chris Nissen-park. Selfs die AFM Jesus Cares Ministries se rekening het gestyg.
“Dié kerk het ’n waterrekening van meer as R30 000 gekry en hulle dreig om hul water permanent af te sit.”
’n Brief wat Son gesien het, gedateer 20 November, wys dat die kerk die Stad R33 276 skuld vir waterdienste.
Sandra Manuel sê sy is al byna twee jaar op die drupstelsel nadat die Stad die watermeter by haar huis kom insit het.
“Ek het ’n kleuterskool, Tiny Bubbles Crèche, wat ek van my huis bestuur,” sê sy.
Met die min water raak die bubbles hier ook net kleiner.
Son het vandeesweek berig dat die Stad beoog om vanaf 1 Februarie 2018 ’n droogte-charge in te stel weens die waterkrisis in die Kaap.
Die ANC in die raad het aangedui dat hy die nasionale minister van finansies, Malusi Gigaba, gaan vra om die Stad se versoek te reject.
Die Stad se mayco-lid belas met informele nedersettings, water, vullisverwydering en energie, Xanthea Limberg, sê daar is geen klagtes oor die watermeters in die area by die council aangemeld nie.
Sy sê verder die waterrekeninge is gebaseer op werklike lesings en dat daar geen onreëlmatighede op die AFM-kerk se account is nie.