14 dae gelede
KYK: ‘Ons soek hom nie by ons’
AKSIE: Anthea Jones sê hulle sal nie stilbly totdat Pang uit hul gemeenskap verwyder word nie.  ~ Peter Abrahams

ALMAL is gatvol vir Pang.

Talle inwoners van Kalksteenfontein het juis by die Bishop Lavis-landdroshof saamgedrom om teen sy beweerde onwettige dade te betoog.

Die inwoners sê hulle het genoeg gehad van ’n gangster wat hul gebied omkrap, hul kinders seermaak en hul bejaardes dreig.

Onveilig

Pang het in die hof verskyn op ’n klag van poging tot moord nadat hy laas Vrydag na bewering ’n bejaarde man met ’n vuurwapen gedreig het.

Die gemeenskap het sommer die geleentheid gebruik om hulle stem dik te maak oor Pang se beweerde onwettige dade wat hy in hulle gemeenskap pleeg.

“Ons het nou net mooi genoeg gehad van sy dade en soek hom nie in ons gemeenskap nie. Ons kinders kan nie eens buite speel nie so onveilig is dit noudat Pang hier in die gebied is. Hy moet uit!” sê Anthea Jones, ’n inwoner.

Jones sê hulle het ’n petisie opgestel wat inwoners onderteken het en wat by die hof ingedien is dat Pang nie vrygelaat moet word nie en ook nie terug in hul gebied mag kom nie.

“Hy bring sy gangsters skiempie toe en hulle kom skiet hier op ons, en ons kinders kan nie in die pad loop nie. Hy het ’n huis waar drugs verkoop word en die vrou van die huis sê sy kan niks doen nie.

“Ons is moeg van dit. Hy behoort nie hier nie.

“Die petition is opgestel om te wys ons het genoeg gehad. Ons soek hom nie in ons skiempie nie. Voorheen kon mens rondloop, nou kan jy nie. Ons lewens is in gevaar,” sê Jones.

Sy voeg by hulle vertrou ook nie die polisie nie en weet nie waar om aan te klop vir hulp nie.

Antie Jane Anderson sê sedert Pang in hul gebied bly, gaan daar verkeerde goed aan.

“Ons almal het opgestaan en het teen hom aksie geneem, maar dit is nie genoeg nie. Ons verwag dat hy uit ons plek gesit word en hy moet gaan waar hy behoort.”

In die petisie sê Frikkie Arendse, ’n inwoner, die gemeenskap staan saam om Pang te verwyder vir die veiligheid van hul kinders en bejaardes.

Hy voeg by die huis waarin Pang woon, word gebruik as ’n lollie-huis of drug-den en jong kinders word daarheen gelok. Hulle probeer om die gemeenskap op te bou, maar daar word vir hul kinders gevrees.

Die huis waarin Pang tans woon, is volgens inwoners ’n council-huis en hulle weet die Stad sal nie onwettige aktiwiteite daar toelaat nie. Hulle vra dus dat aksie geneem word.

Aanmoedig

Raadslid Charles Esau sê hy is bly om te hoor die gemeenskap neem aksie.

Hy sê ook enige onwettige aktiwiteite op council property is teen die Stad se beleid en hy wil die gemeenskap aanmoedig om na die behuisingskantoor te gaan om dit aan te meld.

“Hulle kan anoniem bly wanneer hulle so iets wil aanmeld en die behuisingskantoor sal dit dan verder vat met die relevante departemente om aksie te neem,” sê Esau.

Ná talle pogings kon Son teen druktyd nog nie Pang se regte naam by die hof bevestig het nie.

Pang bly tans in aanhouding en verskyn weer op 21 September in die hof.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters