2 maande gelede
‘Ons is getorture’
GEMARTEL: Die jongens het almal deurgeloop.  ~ Melinda Stuurman

“HULLE het ons getor­ture soos die apartheidpolisie destyds gemaak het.”

Só vertel Dimitri Diedericks (30) van Kleinvlei in Eerste­rivier oor hy en sy maats se nag van hel. Hulle is na bewering deur die polisie se eenheid teen bendes en die plaaslike polisie gebliksem.

Diedericks se lyf en gesig is pimpel en pers geslaan.

Hy sukkel om te praat: “Dit was Sondagaand. Ons was drie in die bakkie. Toe ons stop, stop daar twee vans van die AGU (anti-gang unit) agter ons. Saam met hulle was ’n hele paar polisie vans.

“Hulle het sommer begin rubberkoeëls skiet.”

Diedericks sê nadat hulle by sy vriende se wendyhuis gestop is, is hulle binnetoe geneem.

“Ons was so 13 mense. Almal is regdeur die bank aangerand.

“Vir my het hulle opgehang en met pikstele geslaan.

Ons is ook vele kere met ’n tazer geskok.”

Deacan van der Host (15) was ook in die bakkie.

“Hulle het my hande geboei en my ook met pikstele geslaan. Ek het twee keer flou geword,” vertel hy.

SEER GESIGTE: Dimitri Diedericks (30) en Deacan van der Host (15) is in hulle gesigte ook geslaan.

Twee ander kinders wat in die wendyhuis was, sê een van hulle is geforce om te pie en die ander een is geforce om dit te drink.

Volgens die groep weet hulle steeds nie waaroor hulle so gemartel is nie.

“Hulle het net geslaan. Niks gevra nie en niks gesoek nie.”

Glenda Fortuin, ’n ma, sê die jong mans het haar genader om hulp nadat die polisiestasie hulle weggewys het.

“Hulle wou sake maak teen die cops, maar hulle word weggewys omdat hulle nie J88-vorms (lys van beserings) het nie. Die dokter by Eersterivier sê vir hulle die polisie moet die J88-vorms self gaan afhaal.”

Ondersoek

Mihlali Majikela, polisiewoordvoerder, sê ’n klag van aanranding met die doel om ernstig te beseer, is geopen.

“Die saak is na die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat verwys vir ondersoek.”

PIMPEL EN PERS: Dimitri Diedericks (30) sukkel om sy broek af te trek.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters