13 dae gelede
Online stelsel sit menige af
DIT WERK NIE: Margaret Cloete sê sy gaan nie die online system gebruik nie, want sy sal in elk geval in die ry moet kom sit.  ~ Jonathan Lestrade

“JY KAN maar ’n afspraak online maak, maar hier sal jy wéér kom sit.”

Só vertel Edna Seedras (65) van Delft wat gister lank voor sonop al in die ry voor die Sassa-kantoor in Bellville gestaan en haar beurt afgewag het.

“Al maak jy ’n booking online, gaan jy nog steeds in die lang ry beland. So, daai online besigheid werk nie vir ons nie,” sê Seedras.

Fisiek

Seedras verwys na die launch van die departement van maatskaplike ontwikkeling se online booking- stelsel vir ongeskiktheidstoelae. Minister Lindiwe Zulu het die stelsel verlede week bekend gestel.

Volgens die departement sal dit die aansoekers van ongeskiktheidstoelae in staat stel om hul mediese assessering te bespreek sonder om die plaaslike Sassakantoor fisiek te besoek wanneer die stelsel in werking kom.

Die aanlyn besprekingstelsel vorm deel van Sassa se strategie om sy dienste te verbeter deur doeltreffende gebruik van digitale tegnologie. Hy wil sodoende die beskikbare tyd vir die agentskap sowel as die aansoekers aansienlik verminder en kostebesparing meebring.

Seedras vra: “Waar moet mense data kry om online te gaan? Ons is pensioners­.

“Ons kan dit nie bekostig nie.”

Margaret Cloete (60) sê sy sal nie die online platform gebruik nie omdat mense steeds na die kantore moet kom vir papierwerk.

“Dis nie die moeite werd nie. Dit kos geld om online te gaan.

“Ons sit dan juis in ’n lang ry om ons pension te ontvang. Waar moet ons nog geld kry om ’n online platform te gebruik?” vra sy.

Charmaine Davids sê sy weet nie of sy die stelsel sal gebruik nie.

“Ek hoop om vandag gehelp te word, dan hoef ek nie weer terug te kom nie.

“Maar ek weet ook nie so baie van tegnologie nie. Die jonger mense sal weet – dalk sal hulle dit gebruik.”

Die feit bly staan – online of off­line – die lang rye wagtende mense by dié kantoor in Bellville is nog daar.

NIE VIR ONS: Edna Seedras sê online systems is net vir mense wat dit kan bekostig. Foto: Jonathan Lestrade
BLY BESIG: Jennifer Otto (64) het sommer besluit om ’n serp te brei terwyl sy in die lang ry voor die Sassa-kantoor in Bellville sit en wag. Foto: Jonathan Lestrade

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters