Verlede maand
Ongeluk eis gesinnetjie
Toneel: Die bestuurder van die Volkswagen Polo het na bewering teen die motor van die paartjie en hul dogter gebots.FOTO’S VERSKAF  ~ 

FAMILIE en vriende van ’n paartjie en hul dogtertjie wat tragies verongeluk het, is gebroke en steeds in skok.

Nikki Louw, haar verloofde, Anton van der Spuy, en hul driejarige dogtertjie, Ashleigh Louw, was Sondagaand op pad na hul huis in Durbanville toe hulle in dié tragiese ongeluk betrokke was.

Die pragtige gesin is op slag dood toe hul motor teen ’n ander motor bots.

Volgens die sekerheidsmaatskappy Titanium Securitas het hulle verskeie oproepe ontvang van ’n kop-aan-kop botsing op die Klipheuwel-pad naby die Philadelphia afrit.

Hulle sê ’n ooggetuie wat agter die bestuurder van die wit Polo gery het, het gesê hy het gesien hoe die bestuurder roekeloos ry en daarna teen die gesin se motor bots.

Toneel: Die bestuurder van die Volkswagen Polo het na bewering teen die motor van die paartjie en hul dogter gebots.FOTO’S VERSKAF

In ’n inskrywing wat Titanium Securitas op sy Facebook-blad gemaak het, sê die maatskappy hy het dadelik verskeie hulpbronne na die toneel uitgestuur om bystand te bied.

Die inskrywing lees: “By hul aankoms het ons mediese span twee voertuie gekry wat trompop teen mekaar gebots het.

Beserings

“Ons mediese span het die insittendes van een van die voertuie geassesseer en daar is bevind dat al drie insittendes van die ligte wit motor reeds aan hul wonde beswyk het.

“Dit het ’n volwasse man en vrou en ’n jong kind ingesluit.

“Hulle het geen tekens van lewe getoon nie en is op die toneel dood verklaar.

“Die bestuurder van die tweede voertuig het ernstige beserings opgedoen en moes met die jaws of life bevry word.

“Twee ander passasiers in die voertuig het ligte beserings opgedoen en almal is na ’n nabye hospitaal vervoer.”Laina Jordan, ’n kollega van Louw, het aan Son gesê hulle is platgeslaan oor die tragedie.

Jordan sê: “Dis ’n baie sensitiewe tyd vir die familie, maar hulle was ’n mooi, vriendelike en geliefde familie. Ons almal is gebroke deur die nuus.”

AO Joseph Swartbooi, ’n polisiewoordvoerder, het bevestig dat die polisie ’n klag van strafbare manslag ondersoek.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters