Verlede maand
Ongeletterde kids leer les
Leer: Shaheeda Baza, een van die volunteers van die program, help ’n leerder om sy klankie te leer.  ~ 

OM TE lees gee ’n kind die geleentheid om te droom.

En vir Veronica en haar man, Russel Trimm, ’n egpaar van Northpine, is dit hul droom dat elke kind kan lees, skryf en droom.

Die egpaar maak dit nou hul besigheid om te verseker dat laerskoolleerders die geleentheid het om te leer lees en skryf en ook om hul skoolwerk te verstaan.

Vir die Trimms is dit ’n eer om ’n rol te speel in die opvoeding van skoolkinders.

Deur hul organisasie sonder winsbejag, Reading Aloud, maak hulle dit moontlik vir jong kinders om hul selfvertroue op te bou deur lees.

Die egpaar het hul program begin by die Blue Downs Primêre Skool, waar hulle ouers van leerders ingeroep het om hulle te help met die program.

Tans is hulle by die Spurwing Primêre Skool in Eersterivier en hul dienste aan leerders van gr. 1 tot gr. 7 help baie.

Russel sê sowat ’n jaar gelede het hulle die nood agtergekom. Daar is kinders in die skoolstelsel wat probleme het met die kurrikulum en nie kan byhou nie.

“Ons het toe besluit om die Reading Aloud-program aan te bied en kinders uit die klas te kry en vir hulle one-on-one tutoring-sessies te gee.

“Die program gee die kind die geleentheid om terug te gaan na waar hy fouteer het en daarop te konsentreer. Dit gee die kind die geleentheid om by te kom met sy of haar skoolwerk,” sê Russel.

Hy voeg by dat ouers ’n groot rol speel in die program.

“Ons gee die gemeenskap die geleentheid om sessies by te woon sodat hulle die skoolwerk ook beter kan verstaan en hul kinders by die huis daarmee kan help,” sê Veronica.

Sy sê die aim van die Wes-Kaapse onderwysdepartement is dat elke kind teen die ouderdom van tien moet kan lees en skryf, maar van die kinders nie kan nie.

Terug na basics: Venita Buys wys hoe die sessies afloop. Foto’s: JONATHAN LESTRADE

Vol

“Daar is baie dinge wat hulle in plek het daarvoor, maar daar is ook baie kinders wat deur die krake val.

“Die klasse is vol en die onderwysers kan nie by al die kinders uitkom nie. So, wat ons beoog is om vir die kinders een-tot-een-sessies te gee,” sê sy.

Veronica sê hulle begin by die basiese vlak sodat hulle presies kan sien waar die fout lê.

“Van gr. 1 tot gr. 4 moet die kind leer om te lees en daarna lees om te leer, so, dit is belangrik dat hulle op daardie punt hulself kan help.

“Maar dit is verbasend dat baie van hulle nog sukkel om hul naam te skryf. Ons beoog dus om daardie kinders te help wat na ons verwys word,” sê sy.

Twee assistente, Shaheeda Baza en Venita Buys, sê hulle kan die verskil in die kinders se houding sien wanneer hulle die program al ’n ruk bywoon.

“Ek kan sien hoe hulle die skoolwerk geniet omdat hulle dit kan lees en verstaan.

“Dit gee vir hulle selfvertroue en hulle glo dat hulle enige uitdaging kan aanpak,” sê Baza.

Maak ’n verskil: Russel en Veronica Trimm beoog om elke kind te help lees en skryf.

Buys sê sy kan ’n verbetering sien in die jong leerdertjies se skoolwerk en hul houding.

“Hulle weet ons is hier om hulle te help, nie om hulle te veroordeel nie.

“Ons werk lekker saam en hulle geniet die werk noudat hulle dit self kan lees en beter verstaan.”

Die Trimms sê hulle beoog om hul program na ander skole uit te brei sodat meer kinders die geleentheid kan hê om te lees, skryf en droom.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters