4 jaar gelede
Onderrig in jou moedertaal tops
bevoorreg: Marlene le Roux is in haar Moedertaal onderrig.Foto: foto24  ~ 

MAAK die regte keuse vir jou kind!

“Afrikaans is my moedertaal en dit is wie ek is. Ek was bevoorreg om in my moedertaal onderrig te kry, myself te kan ontdek en uit te druk. En ook in my taal my reis om my identiteit binne ’n veeltalige milieu te kan uitleef.”

Voorbeeld

Aan die woord is Marlene le Roux, uitvoerende hoof van die Kunstekaap. Marlene is ook ’n beskermvrou vir Afrikaans.com

As daar een goeie voorbeeld is van iemand vir wie moedertaalonderrig uitstekend gewerk het, is dit Le Roux.

Dinsdag was Internasionale Moedertaaldag en ook hier in Suid-Afrika val die klem weer op die waarde van onderrig in jou moedertaal.

Afrikaans.com, die webblad waar die verskeidenheid en skoonheid van Afrikaans gevier en verken word, het met die oog op die belangrikheid van moedertaalonderrig ’n nuwe interaktiewe lekker-lees Moedertaalonderrigblad bekend gestel.

Die blad bevat broodnodige inligting oor hoekom moedertaalonderrig so belangrik is vir toekoms­tige sukses en dit bied ook die geleentheid om vrae te vra wat deur kundiges beantwoord sal word.

Kortliks is die belangrikste voordele van moedertaalonderrig die volgende:

  • Taalvaardigheid word moeiliker verwerf wanneer ’n nie-moedertaal gebruik word.
  • Om te leer lees, is een van die belangrikste vaardighede wat kinders moet aanleer. Wanneer die aanleer van hierdie vaardigheid in ’n ander taal gebeur, kan dit verwarring by die leerder veroorsaak.
  • Vir enige kind is die oorgang tussen die huis en die skool makliker wanneer dit in sy moedertaal gebeur.
  • Die skool waar leerders in hul moedertaal onderrig word, word beter in die gemeenskap geïntegreer.
  • ’n Mens se moedertaal is die belangrikste draer van jou kulturele identiteit.
  • Denke geskied volgens taalnavorsers deur middel van taal en wanneer ’n kind verward is omdat hy nie in sy moedertaal onderrig word nie, het dit ’n negatiewe invloed op sy vermoë om te dink.

Die joernalis en motiveringspreker Rian Cloete sê Afrikaans is die taal van sy hart.

“Dis uiteraard méér as net my moedertaal: dis die taal van my bestaan.

“Dit verwoord my volle menswees, dit verwoord my liefde vir God, my gesin, my familie, my medemens.

“Sonder Afrikaans het ek asemnood.

“Moedertaalonderrig is ons reg. Meer as dit . . . ons behoort dit vir mekaar te gun.Respek vir mekaar verseker ’n vry en veilige multikulturele bestel.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters