10 dae gelede
Onderonsie lei tot seer
LYK LIEDERLIK: Yaseen Morris (11) is sy voortand kwyt.  ~ Foto Verskaf

’N LAITIE moet nou ’n rekonstruktiewe mondoperasie ondergaan nadat ’n man na bewering een van sy voortande op Kersdag uitgeskop het.

Die voortand van Yaseen Morris (11), ’n leerder van Rocklands in Mitchells Plain, is glo deur ’n volwasse man uit sy mond geskop.

Die voorval het op Kersdag by die gym-parkie gebeur toe hy en sy vriende daar gespeel het.

Volgens die seun se ma, Moeneeba, het ’n meisie daar opgedaag.

Sy vertel die girl wou haar seun beroof; hy het ’n R30 op hom gehad.

’n Omgekrapte Moeneeba vertel: “Die 14-jarige meisie het Yaseem se geld probeer afvat en sy het in sy broeksakke gekrap.

Weggeloop

“Hy het met haar baklei en sy vriende het die meisie met klippe gegooi.

“Sy het toe weggeloop en gesê sy kom nou terug met ’n mes. ’n Man het na my seun aangeloop gekom en gesê hy het sy kar met ’n klip gegooi.

“Hy het my kind aan die arm gegryp en hom geswaai dat hy neerval.

“Toe skop hy my kind in die gesig dat sy voortand uit sy mond val.

“Ek het gaan uitvind wat gebeur het en die man het in my gesig gelieg.

“Hy het op my geskree en gesê ek moet na my kind kyk.

“Daar was ’n klomp mans wat in die parkie gesit het, maar hulle het nie ’n vinger gelig om my kind te help nie. Dit is kindermishandeling en moet tot ’n einde kom!

“Hy het so baie gebloei en ek moes hom tandarts toe neem.

“Die polisie het die man die volgende dag gearresteer nadat ek ’n saak van aanranding teen hom gemaak het.

“Die cops het hom weer laat loop.”

DIE PLEK: Dis in dié parkie waar dit gebeur het. Foto: Verskaf

Volgens Moeneeba is Yaseen baie getraumatiseer en kan hy ná die voorval saans nie slaap nie.

Intussen staar die onkoste van die operasie die gesin ook nog in die gesig.

Klein Yaseen is ’n kranige sokkerspeler en speel ook krieket.

Die polisie ondersoek steeds ’n saak van aanranding.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters