8 dae gelede
Onderduimse cop van Delft gevang
IN DIE SOP: Speurder-sers. Warren Domoney van Delft polisiestasie is verlede Donderdag vir korrupsie gearresteer.  ~ Foto Verskaf

’N SPEURDER van Delft is uit op borgtog nadat hy verlede week deur die Valke gearresteer is.

Speurder-sers, Warren Domoney, is na verneem word vir korrupsie en beweerde betrokkenheid by bende-aktiwiteite in die area gevang.

Hy was aan diens toe hy Donderdag deur die polisie se korrupsie-eenheid by sy kantoor gearresteer is.

Domoney het Vrydag in die hof verskyn.

Hy is op die oomblik op borgtog buite.

Die leier van die JCY-bende in Delft is ook gearresteer en is steeds in die tjoekie.

Domoney het na bewering saam met die leier van die JCY-bende in Delft gewerk.

Losgelaat

Hierdie speurder het na bewering dossiere vir ’n bedrag van R500 laat wegraak.

Hy het ook verdagtes uit die aanhoudingselle losgelaat voordat hulle aangekla kon word.

Hy het ook na bewering vuurwapens aan die gangsters verkoop.

Die voorsitter van die Delft-gemeenskapspolisiëringsforum, pastoor Charles George, het bevestig dat die speurder gearresteer is.

George sê: “Ons is bly dat die nuut aangestelde stasiekommissaris korrupsie by die Delft Polisiestasie uitroei.

“Ons ondersteun en moedig die stasiekommissaris aan om van alle korrupte lede ontslae te raak.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters