3 dae gelede
Omkoopgeld ‘n kopseer
Deurmekaar: ’n Beskuldigde se beweringe en gesondheid het die hof vir eers laat verdaag.  ~ Foto Ter Illustrasie

“DIE staat het my omgekoop.”

Dít was gister beskuldigde nr. 9, Mustaqeem “Staggie” Titus, se storie aan die hof.

Staggie is een van 20 vermeende lede van die Terrible Josters-bende wat teregstaan op ’n rits aanklagte, insluitend moord, poging tot moord, dwelmhandel en die oortreding van die Poca-wet.

Daar is 145 klagte op die klagstaat, met beskuldigde nr. 1, Elton “Koffie” Lenting, en beskuldigde nr. 2, Raymond “Muis” Arendse, wat op ál die klagte moet antwoord.

Voordat gister se hofverrigtinge nog begin het, was daar reeds ’n vertraging toe Staggie eers sy regsverteenwoordiger wou sien.

Volgens die regsverteenwoordiger was Staggie in die hof, maar hy het terug na die polisieselle in die hof gegaan omdat hy eers met sy prokureur wou konsulteer.

Ná ’n rukkie het die regsverteenwoordiger alleen teruggekeer en aan die hof verduidelik dat sy kliënt nie lekker voel nie en dit is waarom hy nie die hofverrigtinge sou bywoon nie.

“Ek het hom gevra vir ’n beter verduideliking, maar dit kom voor dat hy benoud is en dit is moeilik om met hom te konsulteer,” het die lawyer aangevoer.

Waarnemende regter James Le­khuleni was nie te vinde met Staggie se verskoning nie en wou hom in die hof aanspreek.

Ná ’n kort verdaging het Staggie toe in die hof verskyn.

Staggie se regsverteenwoordiger sê toe aan die hof: “Ek het met my kliënt gepraat en hy sê hy het ’n kopseer en voel nie lekker nie en dit is waarom hy nie met die verrigtinge kan voortgaan nie.”

Deurmekaar

Lekhuleni het toe self vir Staggie gevra wat fout is en of hy siek is of nie, maar die beskuldigde het eerder die geleentheid gebruik om die staat te beskuldig dat hulle hom wou omkoop.

Hy het nie die regter se vraag beantwoord nie en voortgegaan om in baie deurmekaar spraak te sê dat hy op 6 Oktober ’n fine gegee is met moordklagte...

“Hulle het my nommers gegee om hulle te bel en goed aan hulle te sê.

“Die staat het my omgekoop en was veronderstel om my geld te gee.

“Moet ek bewyse bring van die ding?” het Staggie gevra.

Lekhuleni het weer aan Staggie gevra of hy siek is of nie, maar hy het net aangegaan en verdere beweringe gemaak dat “mense die dinge gesien het en dinge wat jou lewe in gevaar stel.

“Ek kan dit bewys as die hof bewyse wil hê,” sê hy.

Lekhuleni het dik gehou en Staggie gevra of hy siek is of nie.

Toe laat hoor hy dat hy nie lekker voel nie, maar in dieselfde asem praat hy weer van bewyse.

Die ander beskuldigdes was nie gelukkig met die antwoord nie en het hom aangemoedig om verder oor die omkoopgeld te praat.

Hulle het hardop laat hoor: “Laat hy praat.”

Beslis

Lekhuleni het egter ’n stokkie daarvoor gesteek en opgemerk dat hy nie oortuig is dat die beskuldigde siek is nie.

Hy het beslis dat verrigtinge sou voortgaan met die beskuldigde teenwoordig.

Die saak gaan vandag voort.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters