2 maande gelede
Nuwe strain nie ’n surprise; al hoe meer ent in
ENTSTOF: Dit lyk asof ryker lande gouer geholpe sal raak.  ~ Foto ter illustrasie: Melinda Stuurman

DIE corona-virus-storm woed wêreldwyd voort en teen gister het minstens 1,7 miljoen mense al daaraan gesterf.

In Amerika, waar baie mense glo maskers is onnodig, is reeds 326 772 mense dood –die meeste van alle lande.

Teen gister is 177 683 nuwe gevalle aangemeld en verlede week nog het 3 304 mense op een dag daar gesterf. Dié syfer het intussen afgekom. Gister het 1 486 beswyk.

Die Amerikaanse senaat het nou wetgewing deurgevoer om mense geldelik te help.

Joe Biden, Amerika se aangewese president, het intussen soos talle ander Amerikaners die entstof ontvang.

Hoewel die nuwe mutasie van die virus in veral Suid-Afrika en die Britse Eilande amok maak, raak dit Amerika nie.

Kenners sê egter hoe vinniger mense die entstof ontvang, hoe beter.

In Indië het 146 145 mense reeds weens die virus omgekom, 187 222 in Brasilië, 51 351 in Rusland, 60 900 in Frank­ryk en 67 616 in die Britse Eilande.

Oujaar

Groot dele van Londen kan na vlak 4 van hul lockdown beweeg nadat Patrick Vallance, die Britte se hoofwetenskaplike, aanbeveel het dat strenger maatreëls ingestel word.

Die kans is groot dat die Britte nie soos altyd Oujaar sal kan vier nie.

Net soos in Suid-Afrika het die nuwe mutasie van die corona-virus sy kop uitgesteek en dit versprei vinnig. Die goeie nuus is dat dit mense nie nou nóg sieker maak nie.

Melissa Nolan, ’n professor aan die Universiteit van Suid-Carolina in Amerika en kenner van aansteeklike siektes, sê mense wat aan die entstof werk, het gesê die virus sal muteer.

“Ons het dit verwag, maar op die oomblik lyk dit nie asof daar dramatiese genetiese veranderinge is nie.”

In dié stadium het net Amerika, Brittanje en Rusland al met inentings begin.

Argentinië, Israel, Iran, Kanada, Bahrein, Koeweit, Saoedi-Arabië, Indonesië, Paki­stan, Singapoer en Japan begin binnekort met hul inentings.

Tans is dit glad nie duidelik hoe ver Suid-Afrika met die inentings is nie, maar dit lyk nie asof dit gou sal begin nie. – AP, USA Today en Timesnownews.com

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters