4 maande gelede
Nuwe premier vat dit pad toe
gryskat: Die aangewese premier van die Wes-Kaap, Alan Winde, spreek gister ’n blou golf van ondersteuners toe.FOTO verskaf  ~ 

DIE Wes-Kaap se aangewese premier, Alan Winde, het gister beloof hy sal hard werk om dié provinsie te beveilig.

Winde het gister met Son gesels nadat hy DA-ondersteuners vir hul harde werk in die verkiesingsveldtog bedank het.

Treindiens

Hy het kort ná die ver­kiesing gesê hy moet kenners nog raadpleeg oor beloftes wat hy gedurende die verkiesingsveldtog gemaak het.

Winde het ’n betroubaarder treindiens en elektrisiteitsvoorsiening, en ’n provinsiale polisiediens belowe.

Son het hom gevra of hy die beloftes gemaak het sonder om eers die feite van kenners te kry.

Winde het gesê dis nie die geval nie, en het verduidelik: “Die feit is dat Suid-Afrika se Grondwet stipuleer dat die polisie vanuit Pretoria bestuur word.

“Ek voel dis nie reg nie. Watch this space. Ek gaan van onder af werk. Ek gaan dié plek (Wes-Kaap) veilig maak.

“Ek móét dit doen, anders kan alles wat ons hier wil doen, nie gebeur nie. Ons kan nie jobs skep as die provinsie onveilig is nie.

“Reeds meer as 1 800 slagoffers is in minder as ses maande in die provinsie. So, iets drasties moet gedoen word.”

Vryheid

Winde sê hy stem saam met die SA Schools Amendment Act, waarkragtens skoolbeheerliggame alkohol ná skoolure gedurende gesellighede op skoolterreine mag verkoop.

Hy sê daar’s niks fout daarmee nie, aangesien dit nie gedurende skoolure is nie.

Hy meen verder die wet­gewing bied die skoolbeheer­liggame ook net die vryheid om hulle diskresie indiwidueel oor die kwessie uit te oefen.

Winde sê hy moet nou besluit wie hy by sy kabinet gaan insluit, en dís ’n groot taak.

Hy sê hy is bereid om van ander te leer, onder meer van ander owerhede landwyd.

“Ek sal graag wil leer van ander owerhede, soos dié wat meer huise as ons lewer,” sê Winde. “Ek wil regtig weet hoe hulle dit regkry.”

Die LPP’s begin die nuwe termyn na verwagting van volgende week af.

Die Good-party van die voormalige burgemeester van Kaapstad, Patricia de Lille, Al Jama-ah en die VF+ is die nuwe partye, met een setel elk.

Waar hy in die vorige termyn een LPP gehad het, sal die EFF nou twee LPP’s hê.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters