4 dae gelede
Nou’s dit oorlog
NOG ENE: Mense staan rond by die plek in Jacobsstraat waar Chester Diergal afgehaal is. Foto: IAN BAARD  ~ 

MAANDAG is drie mans koelbloedig doodgeskiet nadat ’n volskaalse bende-oorlog in die Strand uitgebreek het.

Cops en lede van die gemeenskap glo die oorlog gaan voortduur.

Daar word bespiegel ’n lys is selfs opgestel van wie almal moet val.

Nazeem Hardenberg is begin April vermoor terwyl hy op pad werk toe was. Hy is naby die stadsraad van Kaapstad se store dood.

Teen gistermiddag is niemand nog vir die voorval in hegtenis geneem nie.

Ná die moord op Hardenberg was daar ’n stilte van enkele weke.

Maandag het dié oënskyn­lik vreedsame tyd tot ’n einde gekom toe die 29-jarige Habeed Fagrodien in Libertystraat doodgeskiet is.

Na verneem word, het twee mans omstreeks 12:00 op ’n fiets op hom afgepyl en hom vier keer in die kop geskiet.

Een van die vermeende skieters is met die moord­wapen in Vyfde Straat gevang.

Fagrodien was glo ’n getuie in die moordsaak van Ernesto Sinden, wat verlede Januarie in dieselfde straat doodgeskiet is.

Omstreeks 14:00 is Chester Diergal (31) in Jacobsstraat, Erijaville, vermoor.

’n Aanvaller het hom in die bors geskiet. Diergal het op die toneel beswyk.

Die polisie vermoed dit was ’n vergeldingsaanval vir Fagrodien se dood.

Om 20:50 is die 27-jarige Gervino Veldsman in Bosduifweg in Broadlands Park doodgeskiet. ’n Minderjarige seun (15) is in dieselfde voorval gewond.

Niemand is nog vir die skietvoorval in hegtenis geneem nie.

Verskeie mense in die gemeenskap sê hulle leef in vrees. Terwyl leerders van die Laerskool Dr. G.J. Joubert gister skool toe gestap het, het van die bendelede met guns tussen hulle gehardloop.

Mense wil weet hoekom die teenbende-eenheid nie in die Strand ontplooi word nie. Mense met inligting oor waar guns en drugs gestoor word, word gevra om lt.kol. Franklin Plaatjies te bel by 082 469 3359.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters