3 maande gelede
Nóú wil bendes bloues wys
oorlog: Cops ondersoek die toneel waar een van hulle lede gisteroggend vermoor is. Foto: leon knipe  ~ 

DIS oorlog teen die polisie, dié.

Só sê die Wes-Kaapse minister van gemeenskaps­veiligheid, Albert Fritz, nadat nog ’n jong polisieman gisteroggend in Delft-Suid doodgeskiet en twee ander gewond is.

Ene konst. Khethiwe is in sy gesig getref en het op die toneel gesterf.

Twee van sy kollegas is beseer. Hulle was gister nog in die hospitaal.

Bekend

’n Vierde cop het nie seergekry nie.

Die polisie het gister teen druktyd nog nie die name van die slagoffers bekend gemaak nie.

Die voorval het ongeveer 00:45 op die hoek van Spekboom- en Kweperstraat plaasgevind. Die vier cops het gereageer op skote wat in die omgewing afgevuur is.

Volgens ’n polisiebron het die verdagte voor die polisievoertuig gaan staan en op die cops losgebrand.

Die bron sê: “Die suspect het aangehou skiet terwyl hy in die rigting van Welwitschiastraat gehardloop het.

“Die polisielede het uit­geklim en teruggeskiet, maar die verdagte het weggehardloop.”

Die cops het backup gevra. Lede in ’n ander polisievoertuig het gereageer en die gewapende suspect in Kokerboomstraat in sy linkerheup geskiet.

Die 24-jarige gunman is tans onder polisiebewaking in die hospitaal.

Van die Wes-Kaap se top­generaals was gisteroggend op die toneel. Hulle het met die plaaslike GPF vergader.

’n Betroubare informant wat kort ná die voorval op die toneel was, sê die area as “very scary”.

’n Handjievol nuuskieriges het naby die vên vol koeëlgate rondgehang.

Die informant het gesê omtrent op elke hoek het ’n klomp verdagte mans gestaan en inkommers beloer.

Fritz het gesê gangsters het oorlog teen die polisie verklaar nadat die weermag in bendegeteisterde areas op die Kaapse Vlakte ontplooi is.

Volgens hom doen die gangsters dit om te wys hulle is steeds in beheer van die strate.

Fritz het gesê: “Dis skokkend, maar daar is verwag die gangsters sal terugslaan nadat die weermag ontplooi is. Die boodskap is duidelik.”

Hy meen gespesialiseerde howe moet op die been gebring word en net op bendegeweld fokus.

“Hulle (die bendelede) moet ernstig vervolg word. Hulle moet in enkelselle afgesonder word,” dink hy.

’n Polisiewoordvoerder, kapt. FC van Wyk, het gesê die Wes-Kaapse polisie­bestuur veroordeel die voorval ten sterkste.

Dié voorval volg ’n paar weke nadat die 34-jarige sers. Donovan Prins in Lavender Hill doodgeskiet is terwyl hy en ’n kollega op patrollie was.

Gesteelde

Verlede maand is sewe lede van die eenheid teen bendes in Samora Machel, Philippi, raak geskiet.

Donderdagaand in Harare, Khayelitsha, het twee mans op die polisie geskiet toe hulle gevra is om af te trek. Hulle was in ’n gesteelde VW Polo Vivo.

Die verdagtes (onderskeidelik 30 en 36) is in die voorval gewond.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
2 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters