Verlede maand
Noodlot tref besties saam
DOODSWA
Doodswa: Die bakkie se driver het weggehardloop, sê Lionel Smith.  ~ FOTO VERSKAF

NIE eens die dood kon hulle skei nie.

Twee beste vriendinne het Saterdagaand in ’n tref-en-trap-ongeluk in Silversands-rylaan, Wesbank, langs mekaar gesterf.

Veronica Smith (50) en Ragel Os (50) van Wesbank het soos gewoonlik hul aand met ’n gesprek geëindig, min wetende dit sou ook hul finale goodbyes wees.

Die twee was volgens hul families onafskeidbaar en het alles saam gedoen.

Smith se man Lionel (55) kon nie sy trane inhou terwyl hy oor sy vrou van meer as 20 jaar gepraat het nie.

Hy sê: “Ek gaan haar baie mis – haar lag, hoe lekker ons altyd by mekaar was.

“Ek wens net dis iets wat nooit gebeur het nie.”

Lionel, wat ’n ooggetuie van die ongeluk is, sê hy kan dit nie oor sy hart kry dat hy sy vrou se laaste oomblikke moes aanskou nie.

Hy vertel: “Hulle het net teruggekom nadat hulle een van hul vriende halfway-huis toe afgesien het.

“Hulle het voor Ragel se huis gestaan en gesels toe ’n bakkie baie vinnig aangekom het.”

Lionel sê die driver het so vinnig gery dat die twee besties nie ’n kat se kans gehad het oom uit sy pad te kom nie.

Hy vertel: “Hy het maklik 120 km/h gery toe hy my vrou en Ragel getref het.

“Hy het toe oor my vrou reverse. Daarna het hy weggehardloop.

“Ek weet nie hoe hy dit reggekry het nie, maar ál wat daai tyd op my mind was, was my vrou.”

Hy sê as daar een ding is wat hy nog wens, is dit dat hy sy vrou wil vertel hoe lief hy vir haar is.

Lionel sê: “Sy was my alles – my kinders se ma, ons steunpilaar ... en sy is net so weggeruk.”

Weggevat

Smith is op haar suster, Margaret Ntsane (52), se verjaardag dood.

Ntsane sê: “Ek wil net vir daai drywer sê: ‘Jy’t ons familie se lag weggevat.’

“En aan daai man wat my suster en Ragel h*tn*ts op die toneel genoem het, wil ek sê: ‘God slaap nie.’

“Hulle was mens; hulle was van die mooiste mense wat jy ooit kon kry.”

Sy sê sy soek ook antwoorde van die owerhede omdat hulle teen gister nog niks gehoor het nie.

“Ons hoor maar hy’t homself oorgegee, maar dit wil ons self by die polisie hoor.”

Hart

Os se familie stem saam met Ntsane en sê hul familie se lieflikste persoon is weggevat.

Haar niggie sê: “Ragel was ’n enkelma wat ’n hart vir almal gehad het. Sy het nie verdien om so te gaan nie.

“Haar seun is in die hospitaal; hy is ook verlede week omgestamp.

“Hy weet nog nie van sy ma nie. Hoe vertel ons hom daarvan?”

Sers. Noloyiso Rwexana, ’n polisiewoordvoerder, het bevestig geen verdagte is al in hegtenis geneem nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters