2 maande gelede
Nommers val reg vir twee
VAT 'N KANS: Die nuwe jaar het sommer lekker afgeskop vir die jongste twee groot miljoenêrs.  ~ Leon Bonthuys

’N GELUKKIGE persoon het ’n hele R60 421 872 met Vrydagaand se PowerBall gewen.

Dis die eerste keer vanjaar dat iemand so ’n klomp geld wen.

Die wenner het R52 gespandeer en op ’n bank app gespeel. Dit is nog nie seker waar die persoon woon nie.

Saterdagaand het nog iemand met die Lotto Plus 1 ook ’n heerlike R32 250 332 losgeslaan.

Dit is iemand wat die kaartjie by ’n winkel in Turf Club-straat in Turffontein, Johannesburg, gekoop het. Die speler het ’n Quick Pick gespeel en R80 betaal.

Charmaine Mabuza, groephoof van Ithuba, sê dis die eerste multi-miljoen-wenners van die jaar.

“Die wenners moet ons so gou moontlik kontak.

“Dis belangrik dat mense hul kaartjies nagaan omdat ons wenners in ander afdelings ook het.”

Intussen het al 20 mense hul wengeld gaan opeis nadat die PowerBall van 1 Desember verlede jaar gewen is.

Die wennommers van 5, 6, 7, 8, 9 en die PowerBall 10 – het spelers sommer vies gemaak en duisende mense meen dit is baie verdag.

Die 20 wenners het elk R5,6 miljoen gewen.

’n Wenner in die Wes-Kaap sê hy speel nie gewoonlik Lotto of PowerBall nie, maar Sportstake 13.

Werklikheid

Hy vertel hy het eers nie geglo hy het gewen nie.

“Ek het my kaartjie gehou en die nuus dopgehou en seker gemaak dit is ’n werklikheid. Ek het gelees van die ander wenners wat hul geld opgeëis het en het besef dis alles waar. Dis tóé dat ek my geld gaan haal het.”

’n Wenner in die Oos-Kaap sê hy wen gewoonlik so R20.

“Nou kan ek ’n huis koop vir my vrou waarvan sy altyd gedroom het. Ek het net vir haar van die wenkaartjie vertel omdat ek haar met my lewe vertrou.”

Die man het R45 betaal om te speel.

Een van die wenners is ’n cop van Limpopo wat sê hy wil sy huis laat aanbou vir sy gesin en die res van sy geld belê.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters