Verlede maand
Nog skote klap ná moord
Omar Benjamin  ~ Foto Verskaf

INWONERS van Manenberg vrees vir die opvlamming van bendegeweld nadat ’n vermeende bende-dikding Maandagaand afgemaai is.

Omar Benjamin (25), ’n vermeende dikding van die Clever Kids, is by Johanna Court geskiet en het op pad hospitaal toe gesterf.

Hy is in die kop geskiet en in ’n privaat motor na die hospitaal geneem.

Gespanne

Hy is by sy aankoms by die hospitaal dood verklaar. Nog twee mans van onderskeidelik 35 en 59 jaar oud is in die skietvoorval gewond.

Hulle is tans in die hospitaal – albei in ’n ernstige toestand. Volgens ’n buurtwaglid wat verkies om anoniem te bly, is die spanning in die omgewing tasbaar.

Die buurtwaglid sê die gangsters het ná die voorval weer begin skiet en hulle vrees dat die bendes nie gaan stop voordat hulle wraak geneem het nie.

“Ons vrees dat nóg mense in die bendeskietery gaan sterf.”

Volgens kapt. FC van Wyk, ’n polisiewoordvoerder, het die verdagtes van die toneel gevlug en niemand is nog gearresteer nie.

“ ’n Moord en twee sake van poging tot moord word ondersoek,” sê Van Wyk.

  • Intussen is nog ’n vermeende gangster (20) Maandagaand in Parkwood koelbloedig doodgeskiet. Die voorval het by Denise Court gebeur en die man is in die hospitaal dood.

Volgens Van Wyk het die cops ’n 26-jarige verdagte gearresteer. Die cops ondersoek nog die omstandighede rondom die voorval.

Past. Paul Phillips van Parkwood sê: “Die bendeskietery op die Kaapse Vlakte het binne die bestek van ’n week drasties toegeneem. Dit is nie net in Parkwood nie, hulle skiet ook daagliks in Lotusrivier.

“Die skietery gaan oor drugs en gangster turf.”

Die verdagte is van moord aangekla en sal binnekort in die Wynberg-landdroshof verskyn.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters