5 maande gelede
Nóg ’n vrou vermoor
Caylinn Links (25)  ~ Facebook

NOG ’n jong vrou van Lutzville is dié naweek vermoor.

Caylinn Links (25) se lyk is Sondag 04:10 met steekwonde in Uitkykstraat gevind, sê Mihlali Majikela, ’n polisiewoordvoerder.

Geruk

Volgens Majikela is die polisie na die toneel ontbied.

“Op die toneel het die beamptes op die vrou se lyk afgekom. Sy het verskeie steekwonde aan haar lyf gehad. Sy is op die toneel dood verklaar.”

Twee maande gelede het Valerie Owies (38) se bloedige moord dié klein gemeenskap geruk.

Die ma van twee kleintjies is vermoedelik met ’n klip doodgekap.

Son het berig Owies was so erg aangerand dat ’n mens nie die vorm van haar kop kon sien nie.

Owies se vermeende aanvaller, Clayton Richards (25), het reeds in die hof verskyn vir haar moord.

Davine Cloete, ’n gemeenskapslid en aktivis, het in die sosiale media uitgevaar oor Links se dood.

“My engelkind, jy is weggeruk van ons af. My hart is stukkend.

“Jy het nog so baie gehad om voor te leef. Weet God sal geregtigheid laat geskied en ons seer heelmaak.”

Cloete het die inwoners van Lutzville aangemoedig om geweld teen vroue aan te meld.

“Laat ons ook saam met die polisie werk om dwelmhandelaars uit te roei.

“Dwelms vernietig ons jong mense se lewens.”

’n Saak van moord is geopen.

Niemand is nog vir Links se moord aangekeer nie.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters