6 maande gelede
Nog ’n seun sterf voor shop
Courtney Jackson (16)  ~ 

’N GR. 9-seun van die Hoërskool Lavender Hill is in die naweek voor ’n winkel in Steenberg doodgeskiet.

Courtney Jackson (16) is etlike kere raak geskiet, het sers. Noloyiso Rwexana, ’n polisiewoordvoerder, gesê.

Die voorval het Saterdag omstreeks 19:40 in Sonatastraat plaasgevind.

“Toe die polisie op die toneel aankom, het die lede die lyk van die 16-jarige seun daar aangetref. Nog ’n onbekende persoon is in die skietvoorval gewond.”

Rwexana sê die motief vir die moord is nog onbekend en niemand is in verband met die voorval aangekeer nie.

Inwoners van Steenberg en omgewing meen egter dié skietvoorval hou verband met die voortslepende bendegeweld in die gebied.

Van die inwoners sê Courtney was nie self lid van ’n bende nie, maar een van sy familielede is wel ’n bendelid.

Ander inwoners meen weer Courtney was nie die skieters se teiken nie.

Steenberg, Lavender Hill en die omgewing gaan gebuk onder voortslepende geweld. Donderdag is ’n vrou in Lavender Hill deur ’n dwaalkoeël getref toe strydende bendes op mekaar geskiet het.

Niemand is ook nog oor dié skietery in hegtenis geneem nie.

Intussen is vier verdagtes Donderdag in Lavender Hill gearresteer.

Die cops het patrollie gedoen en inligting oor ’n skietery opgevolg.

Die inligting het die cops tot by ’n huis in Fawley Court gelei, waar ’n magasyn en verskeie 73 patrone gevind is.

Rwexana sê die patrone was 9 mm-ammunisie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters