13 dae gelede
Nog ’n scoop
SCOTTSDENE BO! Dié leerders spog met die toekenning wat hulle in die WOW-kompetisie ontvang het.  ~ Alvino Horn (gr. 10)

NEE, regtig, die Hoërskool Scottsdene mág maar ’n skoolkoerant uitgee.

Dié skool het Donderdagaand weggestap met twee groot pryse in die Universiteit Stellenbosch se kompetisie Woorde Open Wêrelde (WOW).

Hulle het gewen in die kategorie vir die beste skoolkoerant en vir die beste gebruik van foto’s in ’n skoolkoerant.

Dis die derde jaar dat dié skool in hierdie kategorie wen.

Die gr. 9-, 10- en 11-klasse het almal aan die projek deelgeneem. Shane Bezuidenhoudt, ’n onderwyser wat die leerders touwys maak, sê toe die leerders hoor die groot prys is ’n kamera ter waarde van R10 000 het hulle sommer nóg harder gewerk.

Bezuidenhoudt sê: “Die main aim was om die kamera te wen. Dit was ons mikpunt.

“Die doel op die ou einde van die dag is om die kinders op te lei om fotografie as ’n beroep te doen.”

Bezuidenhoudt spog dat die kinders self die artikels geskryf en die foto’s geneem het.

“Ons wil die kinders weglei van die negatiewe gebeure in die gemeenskap.

“Ons hoor elke dag van die moord en dwelms in ons gemeenskap.

“Ons wil die positiwiteit na vore bring.”

Bezuidenhoudt sê die werksessie wat die kinders by die WOW-fees bygewoon het, het ’n groot rol gespeel in hulle voorbereiding.

Joernaliste van verskeie publikasies het die leerders touwys gemaak oor hoe die mediawêreld in die praktyk werk.

Hy verduidelik: “Die kinders was oppit as dit by die uitgee van die koerant gekom het. Hulle het self besluit watter artikels geskryf moet word.

“Hulle het gebruik gemaak van die inligting wat hulle daar geleer het.

“Hulle het geweet hoe uitleg werk en watter opskrifte om te skryf.

Hy meen die leerders gaan beslis eendag ’n verskil in die mediawêreld maak.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters