7 maande gelede
Nog ’n man doodgeskiet
LORENZO ‘LOGGIE’ PAULSE (40)FOTO VERSKAF  ~ 

NOG ’n man is Sondagoggend in Ravensmead afgemaai.

Lorenzo Paulse (40), bekend as Loggie, is 09:44 op die hoek van De la Reystraat en Pinedeneweg vier keer in die rug geskiet.

Paulse het na verneem in die pad gestaan toe ’n on­bekende man hom nader en op hom begin skiet.

Hy is per ambulans na die hospitaal geneem, maar is by sy aankoms dood verklaar.

Dié voorval kom ná ’n vlaag moorde wat die afgelope twee weke in Ravensmead gepleeg is.

Verlede week is Tyrone Philander, die broer van die voormalige Protea-krieketspeler Vernon Philander, ook doodgeskiet.

Stop

’n Voormalige atleet, Warren Hendricks, is ook verlede week hier doodgeskiet.

Volgens Dawie van Wyk, ’n gemeenskapswerker, kan dit nie so aangaan nie.

Hy meen die minister van gemeenskapsveiligheid moet iets drasties doen om die skietery te stop.

Kapt. FC van Wyk, polisiewoordvoerder, het die skietvoorval bevestig. Niemand is nog gearresteer nie.

’n Moorddossier is geopen.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters