3 maande gelede
Nog een sterf
DOOD: Stiaan Vlok (31) is Vrydagaand in Bonteheuwel ­geskiet.Foto: LEON KNIPE  ~ 

DIE splinternuwe Wes-Kaapse minister van gemeenskapsveiligheid het beloof om bendegeweld op die Kaapse Vlakte om te swaai.

Die nuwe aanstelling was nog nie eens gister aangekondig nie, toe word die lyk van nóg ’n man in Bonte­heuwel ontdek.

Die onbekende man se liggaam is Donderdag 03:40 oorkant Boundary Primary School in Taaibosweg gekry.

Oorgevat

Hy het ’n koeëlwond aan die kop gehad.

Dít kom nadat die 31-jarige Stiaan Vlok Vrydagaand in Jakkalsvleilaan afgemaai is. Hy is ook in die kop geskiet.

Albert Fritz, wat voorheen die minister van maatskap­like dienste was, het gister oorgevat by Alan Winde, wat voortaan die Wes-Kaapse premier is.

Fritz was in 2010 vir ’n jaar minister van gemeenskapsveiligheid.

Hy het inwoners van die Wes-Kaap belowe hy sal die gety van bende­geweld omswaai.

Fritz het gesê: “In my termyn van ag jaar as maatskaplike minister het ek die nood en pyn van ons mense gesien.

“My hart lê na aan die jeug, want hulle is ons toekoms.

“Die Chrysalis-akademie (’n organisasie wat fokus op die ontwikkeling van jong mense) is baie belangrik om die jeug weg te hou van bendebedrywighede.”

Volgens Angus McKenzie, die plaaslike wyksraadslid, is 32 mense al die afgelope jaar in bendeverwante skietvoor­valle in Bonteheuwel af­gemaai.

Hy hoop die ekstra 100 metro-cops wat volgende maand permament in dié woongebied ontplooi gaan word, sal ’n verskil maak.

Volgens kapt. FC van Wyk, ’n woordvoerder van die polisie, is hulle besig om leidrade op te volg.

Niemand is nog in verband met die skietvoorval in hegtenis geneem nie.

’n Moorddossier is wel intussen aangelê.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters