Verlede maand
Lastig: Nog een dood
brandon
Brandon Damonse  ~ Foto Verskaf

DIE man wat verlede week saam met Ernie “Lastig” Solomon in die motor was toe hy afgemaai is, is ook dood.

Brandon Damonse (36) van Delft is Maandag omstreeks 13:00 in ’n hospitaal in Boksburg dood. Sy familie het reeds sy lyk uitgeken.

Lastig is verlede Vrydag in ’n sluipmoordaanval in sy kar in Boksburg doodgeskiet. By hom in die wit BMW was sy dogter en haar tweejarige kind asook Damonse.

Volgens ’n familielid is Damonse meer as 15 keer in die skietery gewond.

“Hy is meestal aan die onderkante van sy lyf getref. Baie van sy organe is in die proses beskadig,” sê die familielid.

Die familielid vertel dat die dokter, wat na Damonse omgesien het voortdurend met hulle in kontak was.

“Ons het geweet dat sy kanse vir oorlewing skraal is, maar ons het nogtans hoop gehad.”

Die familie sê Damonse het voorheen aan ’n tronkbende behoort, maar dat hy nie buite ’n aktiewe lid van ’n bende was nie.

“Van wat ons van die ondersoekbeamptes verstaan, het hy tydens die voorval homself oor Lastig se tweejarige kleinkind gegooi om haar teen die koeëls te beskerm. Hy was ook ’n pa van vier kinders so ons glo dat hy daai dogtertjie sou wou beskerm het.”

Lastig was die voormalige baas van die 28-bende. Hy was ook gereeld betrek by perlemoensmokkelary voor hy glo sy lewe omgedraai het. Sowat twee weke voor die hit op hom het hy aan Son gesê hy weet mense wil hom uithaal omdat hy op ’n vredesforum gedien het wat bendes verhoed het om voort te gaan met hul bedrywighede.

Lastig het in Mei vanjaar ’n hit op sy lewe survive. Tydens sy laaste onderhoud met Son het hy vertel dat hy 10 keer in die mislukte hit raakgeskiet is.

Damonse se lyk word Woensdag in die Kaap verwag. Sy begrafnisdiens word Saterdag gehou.

Van wat verneem word is Lastig se dogter nog in ’n kritieke toestand, maar sy kleinkind is orraait.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters