Verlede maand
Nog drie kom om in boendoehof
Bekommerd: Simon McKenzie sê hulle betreur die voorval.  ~ Verskaf

DIE polisie probeer steeds die naasbestaandes opspoor van drie mans wat in ’n boendoehof in Villiersdorp vermoor is.

Die voorval het Maandagaand by die Lower West­side-plakkerskamp gebeur.

Die mans is met pangas aangeval en doodgekap.

Volgens brig. Novela Potelwa, polisiewoordvoerder, moet die drie mans se lyke nog geïdentifiseer word.

Potelwa sê: “Die mans is deur ’n groep van seker 200 inwoners met pangas aangerand. Al drie mans is op die toneel dood.”

Simon McKenzie, ’n gemeenskapsleier in Villiersdorp, sê: “Ons betreur die voorval wat nooit moes plaasgevind het nie.

Vervolg

“Die identiteit van die mans is nog nie bekend nie. Die polisie wag vir hul vingerafdruk-uitslae om hul identiteit te vas te stel.

“Twee jaar gelede is daar ook in Westside ses mans wreed in ’n boendoehof doodgemaak. Buitelanders het hul kele soos skape s’n afgesny, ten aanskoue van die polisie.

“Die verdagtes is nou nog op vrye voete. Niemand is nog vervolg nie.

“Voor dié betrokke geval is daar nog ’n man wreed doodgemaak. Die rede vir sy dood was diefstal. Daar is nog baie gevalle in Villiersdorp waar mense in boendoehowe doodgemaak is.

“Dit kan nie geduld word nie. Genoeg is genoeg, want ons het al te veel lewens op hierdie wyse verloor.

“Ons glo wet en orde moet gehandhaaf word.

“Die probleem in die dorp is werkloosheid. Dwelmmisbruik is nog ’n euwel.

“As die mense hul geloof in die polisie begin verloor omdat hulle nie hul werk reg doen nie, moet die nodige hulpbronne verkry word sodat hulle wél hul werk kan doen.

“Ons wil hê die minister van polisie moet Villiersdorp besoek sodat ons ons griewe kan lug.”

Volgens McKenzie gaan hulle vandag ’n vergadering met die plaaslike gemeenskapsleiers en alle sektore hou om die probleem aan te spreek.

Hulle beplan om ook ’n memorandum aan die polisie te oorhandig.

Intussen is die polisie besig om die moorde te ondersoek. Niemand is nog gearresteer nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters