Verlede jaar
Nog 3 mans sterf weens bendegeweld
GESKIET: Tasleem Galant is hospitaal toe geneem, maar het aan sy wonde beswyk.  ~ 

’N ONSKULDIGE man is gister in die hospitaal dood en sy vrou gewond nadat gangsters op hulle losgebrand het.

Tasleem Galant (29) het gistermiddag in die Groote Schuur-hospitaal aan sy wonde beswyk.

Hy is verskeie kere in die bors en een keer in die gesig geskiet. Sy vrou (27), wat saam met hom was, is in die been gewond.

Drie mans het na verneem word in Hanover Park-laan losgebrand op die egpaar, wat op pad huis toe was.

In nog ’n geval is ene Tariq Maandagmiddag in ’n bendebakleiery doodgesteek.

Tarig is vol gate gesteek by Como Court in Hanover Park en het later in die hospitaal aan sy wonde beswyk.

Die metro cops het ook gistermiddag by Tiberias Court in Hanover Park onder skoot gekom.

Aangeval

Hulle het patrolliewerk gedoen toe hulle twee verdagte Laughing Boys wou arresteer.

Die inwoners van Tiberian Court het die metro cops aangeval toe hulle die mans wou arresteer.

Die cops het toe losgebrand op die mans, wat wou vlug.

Die een man is in die been geskiet en die ander een in die voet. Albei is vir die besit van onwettige vuurwapens gearresteer.

  • In nog ’n skietvoorval gistermiddag in Scottsdene, Kraaifontein, is ’n man koelbloedig doodgeskiet.

Die voorval, wat vermoedelik bendeverwant is, het in Verastraat plaasgevind.

  • In Bellville is ’n 17-jarige laitie ook by die landdroshof gewond. Vyf onbekende mans het vanuit ’n motor buite die hof op hom losgebrand.

Hy is in die been gewond en met ’n ambulans hospitaal toe geneem.

  • Die cops het ’n verdagte gearresteer vir die moord op Tashwell Nel (1) van Retreat.

Hy is vroeër die maand noodlottig gewond toe bendes op die motor losgebrand het waarin hy en sy oom was.

Die verdagte het Maandag in die Wynbergse landdroshof verskyn op aanklag van moord.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters