5 maande gelede
No-show maak hof siek en sat
Voor: Levona Jacobs sê sy is nou reg vir die hof.Foto: Peter Abrahams  ~ 

“EK WIL nie name noem nie, maar ek word soos ’n hond behandel.”

’n Huilende Levona Jacobs het gister bontgestaan om vir die hof te probeer verduidelik hoekom haar borgtog nie teruggetrek moet word nie.

Jacobs moet hof loop vir die moord op Verna Jacobs, haar oorlede broer se vrou, en Rowena, Verna se dogter. Die ma en dogter se lyke is in Oktober 2015 in Levona se jaart uitgegrawe.

Volgens die staat het sy hulle vermoor. ’n RDP-huis is glo die motief.

Jacobs het gister ’n dik jas aan­gehad.

Regter Mushtak Parker het haar oor die kole­ gehaal omdat sy permy te siek is om hof toe te kom.

“Maar ek voel beter en sal nou elke dag kan hof toe kom,” het Jacobs gesê.

Jacobs is op 27 April geopereer. Ná die operasie het sy twee keer die hof ge-skip.

Donovan Andrews, die dokter van Karl Bremer wat haar toestand monitor, het Maandag getuig daar is geen rede waarom Jacobs nie kan hof toe kom nie. Hy het haar Maandagoggend ondersoek.

Musthak het vir Jacobs gesê dr. Andrews het getuig sy was “erg” deurmekaar.

“Hy sê jy het na sweet gestink en jou hare was deurmekaar.”

Hy wou ook by Jacobs weet of sy voor die besoek by ’n vuisgeveg betrokke was.

Jacobs het gesê sy het groot respek vir Andrews.

“Ek weet nie wat hy bedoel het met ‘daar is niks fout’ met my nie. Jô.

“Ek was in erge pyn. Hy kan mos nie my binnepyne sien nie.”

Jacobs kon ook nie vir die hof verduideli­k hoekom sy haar borgtogvoorwaardes oortree het deur nie drie keer per week by die Elsiesrivier-polisie aan te meld nie.

Sy het gesê sy was altyd so lomerig dat sy nie kon stap nie.

Die hof het ook gehoor die polisie het haar nie by die huis gekry toe hulle na haar gaan soek het nie.

“Die polisie moes in Son lees jy was in die Karl Bremer-hospitaal, want jy het versuim om die ondersoekbeampte van jou bewegings in te lig.”

Parker wou ook weet na wie Jacobs verwys het toe sy gesê het sy word soos ’n hond behandel. “Die hof en die dokters by Karl Bremer het uit hul pad gegaan om jou te akkom­modeer.”

Jacobs het geantwoord sy het bedoel die mense in die gemeenskap behandel haar soos ’n hond en snou haar aller­hande goed toe.

Sy is toe gewaarsku die saak sal sonder haar voortgaan as sy weer siek speel.

Die verhoor duur voort.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters