25 dae gelede
Niks jolly oor dié baie bollie
suutjies TRAP: Past. Derek Holloway en ’n kerksuster moet deur ’n vallei van feses loop om by die kerk te kom.Foto’s: JonAthan Lestrade  ~ 

NETHEID en godsaligheid gaan mos hand aan hand.

Ongelukkig spoil ’n vies­like stank past. Derek Holloway se preke.

Holloway, van Heinz Park, werk in ’n mooi Pinksterkerk, maar het letterlik stront op sy voorstoep.

Dis so erg, dit hou die gemeentelede van die byeenkomste af weg.

Holloway wil die Woord saai, en nou lyk dit kompleet of vragte “kompos” vir dié doel op die kerk se voorstoep afgelaai is.

Rondhardloop

Gewoonlik hou Satan mense weg van die kerk met versoekings soos drank, dwelms en los gelukkies, maar dié keer is dit nr. 2’s.

Terwyl die walglike reuk swaar in die lug hang, vertel Halloway die kerk kry nou nie eens meer visitors nie.

poe(f)! Die mishope lê die hele plek vol.

“Ons kan nie eens spesiale dienste hier hou nie. Wanneer ons fund­raisers hou, wil die mense nie gaste saambring nie.”

Volgens Holloway is hy al siek van rondhardloop om die besigheid te try uitsorteer.

“Ek vra al jare hulp. Ek was tot by die council.

“By my raadslid. Orals.”

Holloway sê hy het die dam rioolwater selfs al ’n saak van gebed gemaak om ontslae te raak daarvan.

“Die council kom en maak hier skoon, maar binne vier dae loop die poo weer die hele plek vol. En dis nie poo gemix met water nie, dis daai drein-poo.”

Antie Gertruda Krotz (55) het kom kyk wat aangaan toe Son daar was.

Sy het skoons in die pad opgegooi oor sy nie meer die reuk kon hanteer nie.

Die antie sê ernstig al wil sy kerk toe gaan, hou die reuk haar daar weg.

“Ek voel glad nie lekker nie. Jy woon tussen vlieë, dan moet jy die Here nog tussen vlieë dien.

“Ek moet my kop toegooi wanneer ek gaan slaap.”

Holloway sê Krotz is net een van die baie gemeentelede wat as gevolg van die rioolvuil nie meer kerk toe wil kom nie.

“Ek is hier om mense van God se liefde te leer, veral hier waar baie in die kloue van dwelms vasgevang is, maar die poo blok my om die Here se werk te doen.”

Volgens Holloway wil hy net hê die council moet ’n plan maak om die drein wat so oorloop op ’n ander plek te sit.

Misbruik

“Ek wil nie meer so in die oë gesit word nie.”

Xanthea Limberg, die Stad Kaapstad se mayco-lid vir water en riooldienste, sê elke dag loop so 300 riooldreine in die Stad oor.

Volgens Limberg word die meeste van hierdie probleme veroorsaak deur inwoners wat die rioolstelsel misbruik. “Die minderheid is as gevolg defekte aan infrastruktuur of ’n gebrek aan kapasiteit.”

Sy sê die Stad het al talle veldtogte gehad wat mense inlig oor die verband tussen onwettige storting, die misbruik van die rioolstelsels en die oorstromings, maar mense luister nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters