Verlede maand
Net nog ’n dag op die Vlakte
BESEER: ’n Seun (11) is Sondag in Manenberg in die been geskiet.  ~ Skermgrepe / Verskaf

’N SEUN van Manenberg is dié naweek ernstig gewond toe ’n verdagte randomly begin skiet het.

Die voorval het Sondag helder oordag plaasgevind.

Die skokkende toneel is vasgevang op ’n selfoon­video waarin gehoor kan word hoe die skote klap.

Die 11-jarige laitie is na ’n hospitaal geneem vir mediese behandeling.

In die video sê iemand: “Maak ’n video, dan wys jy die gesigte.”

Toe die skote begin klap, sê nog iemand: “Phone die boere (polisie).”

In die video kan duidelik gesien word hoe ’n onbekende man – geklee in blou jeans, ’n top met geel moue en beanie – ’n vuurwapen lig, skiet en wegstap.

’n Paar sekondes later sê iemand: “Daar skiet hulle die laitie raak.”

Mense hardloop na die kind, wat weens die skietwond duidelik baie bloed verloor het.

Aangekla

Die polisie ondersoek tans ’n saak van poging tot moord.

Volgens kapt. FC van Wyk, ’n polisiewoordvoerder, was daar ’n klipgooiery tussen twee local bendes toe die 11-jarige seun in die kruisvuur beland het.

“ ’n Man (33) is in hegtenis geneem. Hy sal in die hof verskyn op ’n klag van poging tot moord sodra hy aangekla is,” sê Van Wyk.

Roegshanda Pascoe, ’n gemeenskapsaktivis van Manenberg, sê dit is ’n tipiese voorval dié.

Boonop vind dit volgens haar nie net in Manenberg plaas nie; dit gaan só in ál die gemeenskappe op die Kaapse Vlakte.

“Daar was geen warning signs nie en niemand het mense gewaarsku daar gaan geskiet word nie.

“Maar omdat dit op kamera gecapture is, word ’n ophef daarvan gemaak.”

Pascoe sê wel sy haal haar hoed af vir die persoon/persone wat die selfoonvideo gemaak het.

Oor die video self sê sy: “Dis vir my ’n bewys dat mense nou genoeg gehad het van die geweld.”

Pascoe sê haar hart ruk wanneer sy sulke video’s sien of hoor van voorvalle waar jong en innocent mense gewond of vermoor is.

“Totdat mense standpunt inneem, gaan dinge nie verander nie. Dis ook hartseer om te sien hoeveel mense gedurende dié tydperk buite rondstap.

“Dis asof mense nie bang is vir die virus nie omdat hulle klaar deur soveel gaan.”

Pascoe dink meer mense moet ’n geraas maak, soos die individue wat die video gemaak het.

“Ek salute hulle vir die rol wat hulle gespeel het om daai geval public te maak sodat almal kan sien wat hulle deurgaan en dat aksie geneem moet word.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters