Verlede maand
Net gangster ontwyk bullets
MOORDTONEEL: Yunus Petersen (35) is Dinsdagaand tydens ’n mislukte hit op ’n vermeende gangster by die Sasol-garage in Kensington doodgeskiet. Nog twee mans is gewond.Foto: LEON KNIPE  ~ 

’N ONSKULDIGE man is doodgeskiet en nog twee gewond in ’n mislukte hit op ’n vermeende gangster.

Die voorval het Dinsdag omstreeks 19:25 by die Sasol-garage op die hoek van Voortrekkerweg en 5de Laan, Kensington, plaasgevind.

Yunus Petersen (35) is verskeie kere raakgeskiet en is op die toneel dood.

Nog ’n onskuldige man is in die bene gewond en ’n petroljoggie is in die hand en skouer getref.

Onbekende aanvallers het glo uit ’n wit Quantum-taxi op die drie mans losgebrand waar hulle besig was om ’n motor op sleeptou te neem.

’n Vermeende Americans-bendelid, bekend as “Nigga”, en twee vriende was by die garage besig om die kar te tow.

Die jongens het uit die Quantum op Nigga geskiet, maar hy het ongedeerd weggekom.

Petersen, wat hom gehelp het, is noodlottig gewond en die twee ander mans is ook getref.

Die garage was ure lank gesluit terwyl die cops die toneel vir leidrade gefynkam het.

Volgens Zainulabdien van der Schyff, woordvoerder van die Kensington-gemeenskapspolisiëringsforum, dui die voorlopige ondersoek daarop dat die voorval bendeverwant kan wees.

Hy het ook sy bekommernis uitgespreek oor die veiligheid van die inwoners in die omgewing van Kensington en Factreton.

Volgens kapt. FC van Wyk, ’n polisiewoordvoerder, word die omstandighede rondom die skietvoorval nog ondersoek.

Niemand is tot dusver gearresteer nie.

  • Intussen is niemand ook nog gearresteer vir die moord op ’n onskuldige man van Bonteheuwel nie.

Dié voorval het reeds verlede maand in Samora Machel plaasgevind toe die man op pad werk toe was.

Hy is in sy motor geskiet en is op die toneel dood.

Volgens die man se familie was hy nie ’n gangster nie en die motief vir die moord is nog onbekend.

Enige iemand met inligting oor die moorde kan die polisie se Stop Misdaad-lyn tolvry by 08600 10111 skakel.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters