Verlede maand
Neef gesoek ná similar voorval
PAROW: Sandy Hess, Jesse se antie, by haar begrafnis.  ~ Peter Abrahams

JESSE Hess se vermeende moordenaar het sy slice gemaak toe hy na bewering dieselfde modus operandi gebruik het om nog ’n jong meisie te verkrag.

Dít was net waarvoor die polisie gewag het om David van Boven (31), ’n familielid, te kan vastrek.

Van Boven is op parool uit vir ’n verkragtingsaak. Hy het na bewering Maandagoggend twee meisies in ’n huis in Lynberg Road, Hanover Park, oorval.

Vasgebind

Hy het hulle vir ’n R5 gevra en hulle het hom binne die huis toegelaat.

Die cops vermoed Van Boven is die een wat Jesse en haar oupa Chris Lategan sowat twee maande gelede by hulle flat in Parow oorrompel het.

Jesse (18) is verkrag en vermoor. Lategan (85) is op die badkamervloer dood aangetref.

Volgens ’n ingeligte na aan die ondersoek is die een meisie (16) verkrag en die ander een vasgebind.

Terwyl die een meisie verkrag is, het die ander een ontsnap, sê die informant.

Die informant glo as dit nie was dat die een meisie ontsnap het nie, sou hulle albei ook vermoor geword het.

“Hy is gesteur. Toe hy sien die ander een hardloop weg, het hy begin panic.”

Volgens iemand na aan die ondersoek het die polisie Van Boven al lank in hulle visier.

Daar was net nie genoeg bewyse om hom vas te trek nie.

Die ingeligte het aan Son gesê Van Boven het ’n groot fout begaan met die verkragting van die meisie.

Die persoon het bygevoeg: “Hy was lank die polisie se verdagte, maar dit was moeilik om hom vas te trek.

“Daar was nie genoeg bewyse nie, maar die polisie het net op hom gewag om weer só iets te doen.”

Sandy Hess, Jesse se antie, het gesê hulle weet lankal die neef is ’n verdagte, maar hulle moes stilbly oor hulle nie die saak wou belemmer nie.

Sy kan nie wag vir die dag dat die skuldige vasgetrek word nie.

Hess het gesê: “Die polisie het gesê ek moet vir niemand sê nie.

“Sowat twee weke gelede het ek na ’n funeral toe gegaan.

“Ná die funeral het ons na David se broer toe gegaan. Toe daag hy ook daar op. Ek maak toe net of ek van niks weet nie. Ek het hom net gegroet en ek het toe weer geloop.

“My hart het in my keel geklop.”

’n Woordvoerder van die polisie, Siyabulela Malo, het bevestig die polisie ondersoek ’n saak van verkragting nadat ’n 16-jarige meisie in haar huis verkrag is.

Gearresteer

Malo het gesê: “Die voorval het omstreeks 07:45 by ’n huis in Lynberg Road, Hanover Park, in Philippi plaasgevind. ’n Man is steeds soek. Hy moet nog gearresteer word.”

  • Enige een met inligting kan die ondersoekbeampte, kol. Adrian Pretorius, by 082 777 8499 kontak.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters