2 maande gelede
Nee vir nog wag
nou, hoe nou? Boniswa Lalela (55) van die Marikana-plakkerskamp daag Vrydagoggend sak en pak in Eerste­rivier op.Foto’s: jonathan lestrade  ~ 

“AS ONS nie dié huise kan kry nie, sal niemand anders dit kry nie!”

Só het backyarders en plakkers Vrydag bly skreeu oor die behuisingsprojek in Forest Village, Eersterivier.

Mense van Electric City in Eersterivier en areas soos Mfuleni, Guguletu, Langa en Philippi-Oos het toegesak op die site waar die gesubsidieerde huise is.

Baie van hulle het met hulle klere en ander besittings aangekom – met die doel om die huise te beset.

Die polisie se eenheid vir open­bare orde het die honderde mense gekeer.

Boniswa Lalela (55), ’n inwoner van die Marikana-plakkerskamp in Philippi-Oos, sê sy is gatvol daarvan om in ’n hokkie te bly.

Lalela sê: “Ek bly met sewe klein kinders in ’n klein hokkie. Ek het nie ’n plek om te k*k nie.

versterkings: Die polisie is op die site ontplooi om orde te hou.

“Ek moet ’n emmer vol water op my kop dra en ek ly aan asma. Die elektrisiteit wat ons gebruik, word onwettig van die transformers getap. Dis gevaarlik vir die kinders.

“My naam is al langer as 30 jaar op die behuisingswaglys. Ek kan nie langer vir ’n huis wag nie.”

’n Backyarder van Electric City, Mymona Davids, sê sy gaan sorg dat niemand anders ’n huis kry as sy nie een kan kry nie.

Davids sê kwaad: “As ons nie die huise kan kry nie, kan niemand anders daar intrek nie.

“Ons bly in dié area. As jy in dié area bou, moet jy mos eers na die mense van dié area kyk.

“Hier’s baie backyarders. Hulle maak nie vir die mense van die area voorsiening nie. Hulle gaan haal mense van Macassar en ander areas­.

“Nog erger is dat die mense wat al in dié behuisingsprojek huise gekry het, nog almal kinders is.

“Ek is 52 jaar oud. Ek bly in ’n agterplaas terwyl daar kinders is wat huise kry.”

Omkoopgeld

’n Premierskandidaat van die Land Party, Loyiso Nkohla, beweer die waglys vir behuising is nie betroubaar nie.

Aan die honderde back­yarders en plakkers wat in Forest Drive saamgedrom het, het hy gesê die waglys moet ondersoek word.

ontevrede:Backyarders, Mymona Davids (tweede van links), Louise Josephs (heel regs) en Nicolene Josephs (tweede van regs) sê hulle soek ook huise.Foto:

Nkohla, ’n voormalige strontstryder, sê: “Die waglys het oë en ore. Hy kan kies wie kwalifiseer en wie kwalifiseer nie.

“Daar is buitelanders wat R5 000 omkoopgeld betaal om dié huise te kry, terwyl daar bruin en swart mense is wat al dekades op die behuisingswaglys is.

“Hoekom moet mense eers gewelddadig raak voordat die regering na hulle luister?

“Die mense betoog nie om die polisiemanne se aandag te trek nie.

“Hulle wil die aandag kry van die politi­cians, wie se salarisse hulle betaal.

“Ons as aktiviste vir die gemeenskappe se belange staan bankvas agter hulle struggles.”

Die backyarders en plakkers het die Wes-Kaapse minister van behuising, Bonginkosi Madikizela, uitgejou.

Hy het aan hulle gesê: “Hierdie ding wat julle wil doen om dié huise te beset, is nie reg nie.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters