3 maande gelede
‘Nee vir misbruik’
staan op: Marius Fransman (middel) spreek die saamtrek toe.Foto: George april  ~ 

LAAIPLEK. – Gemoedere het onlangs hoog geloop toe Khoisan en bruin mense van oral uit die Wes-Kaap tot so ver as die Matzikama-munisipaliteit hier saam­getrek het.

Onder die gassprekers was politieke swaar­gewigte soos Marius Fransman en Chris Nissen, die Khoisan-prinses Chantelle Bruckney en Francisco MacKenzie, leier van die Khoisanraad in die Wes-Kaap.

Fransman het gesê die naweek was net vir ’n gesprekvoering, nie ’n “massa-saamtrek” nie.

“Geen politieke organisasies word ook verteenwoordig nie. Dit is die vyfde gesprekvoering nadat eerste gesprekke reeds in 2015 in Kaapstad plaasgevind het.”

Sammy Claassen van Laaiplek, wat die vergadering gereël het, het bors skoon­gemaak en gesê: “Regstellende aksie is ’n nuwe manier van onderdrukking.

“Dit is ’n skande dat daar nie baie bruin mense in topposisies is nie.

“Ons mense kry nie werk nie. Bruin vissers kwalifiseer nie vir viskwotas nie.

“Hoewel ons die meerderheid in die Wes-Kaap is, kry ons nie bestuursposte in die munisipaliteite nie.”

Nissen, van die Mense­regtekommissie (MRK), het gesê alle Suid-Afrikaners is gelyk.

“Ons mense moet ophou om minderwaardig te wees,” het Nissen gesê.

“Bruin mense is ook baie geniepsig teenoor mekaar. Eintlik ly ons aan ’n minderwaardigheidskompleks.

“U het regte en daardie regte moet gerespekteer word,” het Nissen bygevoeg.

Hy het ook sy kommer uitgespreek oor mense wat van plase afgesit word en gesê hulle moet dit by die MRK aanmeld.

Barney Links, ’n afgetrede SAKK-kolonel, het gesê: “Die apartheidsregering het ons slawe gemaak pleks van mede­burgers.

“Ons het dit toegelaat, en die kolonialiste het geweet wat hulle doen. Nou is die Khoisan totaal divided wat die grondkwessie betref.”

Dan Lewendal van Malibu in Eersterivier het gesê bruin mense kan nie meer toelaat dat hulle langer misbruik word nie.

“Laat ons stemme tel,” het Lewendal voorgestel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters