2 maande gelede
Naar kry moet tog klaarkry
GATVOL: Doris Beckett (65) sê sy kan dit nie meer vat nie.  ~ Jonathan Lestrade

K*KVOL!

Só voel die inwoners van Bontebokstraat en Parkland Way in Kraaifontein.

Dié arme mense sit al byna drie weke met rioolwater voor en binne hul huise.

Volgens die inwoners is dit die main riooldrein wat verstop is en nou oorvloei die stink water tot binne in mense se huise.

Jolene Williams (51) het uit pure frustrasie probeer om die water weg te skop so gatvol is sy van die reuk en die stroom water by haar huis se ingang.

“Dit gaan nou te lank aan. Ons weet nie meer hoe om te maak nie. Die water lê en niemand kom uit om ons te help nie,” sak sy af.

Haar buurvrou Martha Coetzee (52) sê dis elke maand se storie.

“Ek voel baie ongelukkig. Ek is ’n chroniese pasiënt en ons het klein kinders hier. Dis mos gevaarlik en kan ons almal siek maak.

“Ek hardloop op en af om hulp te kry om die probleem op te los,” sê sy.

Coetzee sê hulle kan nie só lewe nie.

“Sondag kon ons nie eens eet nie. Die water stoot by die drein in my jaart op. Gelukkig kom dit nie in my huis soos dit in ander se huise ingaan nie. Maar dit is nog steeds nie lekker nie.

“Dis terrible en ons sukkel nou te lank met die probleem.

“Ons het al soveel reference-nommers, maar daar is geen reaksie nie.

“Ons weet nie wat die probleem is nie en wil hê dit moet uitgesorteer word,” sê sy.

Vir Doris Beckett (65) is dit ’n nare situasie.

Die water stoot by haar toilet op en dit veroorsaak dat sy en haar gesin nie die toilet kan flush nie.

Sy strooi nou sand rondom die toilet om te verhoed dat die water oorspoel na die res van die huis.

“Dinsdag en Woensdag was my hele plek vol water.

“Ons moes toe die water uitvee. Dit het van my goed beskadig,” sê sy.

Beckett sê vir haar as diabeet is dit verskriklik.

“Ek moet eet, maar die reuk vat ’n mens se eetlus weg. Ek kan nie eens kosmaak nie. Die reuk is te walglik,” sê sy.

Die Stad Kaapstad se mayco-lid vir informele nedersettings, water-en-afvaldienste en energie, Xanthea Limberg, sê die Stad het die diensversoeke ontvang.

“Die Stad het ’n inspeksie van die gebied gedoen en gevind dat die verstopping deur misbruik van die rioolstelsel veroorsaak is.

“Die maintenance-span het die rioollyn met die gebruik van ’n high-pressure jet unblock.

“Daar word gewerk aan die voltooiing van die manhole om die vrye vloei van water in die rioolstelsel te verseker,” sê Limberg.

Sy sê die rioollyn is einde Maart skoongemaak en die Stad sal opvolg met gereelde ondersoeke in die omgewing.

Limberg sê in die algemeen word die meeste verstoppings in die stad veroorsaak deur misbruik van die rioolstelsel, veral wanneer items soos lappe, koerante, produkte vir vroulike higiëne, doeke en selfs boumateriaal in die stelsel weggegooi word. Dan is daar ook die opbou van kookvet en -olie in die rioolstelsel.

Voortduur

“Wat kookolie en vette betref, word dit hard en klou aan die binnekant van die rioolpype vas.

“Dit veroorsaak weer dat alles aan die vet aan die binnekant van die pyp vasklou en dit verstop.”

Limberg sê verder: “Die Stad maak die verstoppings en overflows reg wanneer dit aangemeld word. Maar die situasie sal voortduur totdat mense ophou om sulke items in die toilet af te spoel en ophou om vette en olies in die drein af te gooi.

“Ons moedig inwoners en besighede aan om op ’n gepaste manier van hierdie items te ontslae te raak.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters