18 dae gelede
Naam mag nie genoem word
STAAN OP: Eerw. June Dolley-Major sê sy fight ook vir ander verkragtingslagoffers.  ~ Peter Abrahams

TONELE vol emosie het hulle gister in die Wes-Kaapse hooggeregshof afgespeel toe eerw. June Dolley-Major van die Anglikaanse Kerk in die hof verskyn het.

’n Vasberade Dolley-Major het buite die hofgebou gesê sy fight nie net ter wille van haar eie sanity nie, maar ook namens ander verkragtingslagoffers.

Dolley-Major voer aan dat ’n mede-predikant in die Anglikaanse Kerk haar meer as 18 jaar gelede verkrag het.

Sy en aktiviste van die One Billion Rising-beweging het onlangs optogte gehou waar die naam van die vermeende verkragter genoem is.

Dié predikant, wie se naam aan Son bekend is, het hom toe tot die hof gewend om Dolley-Major te verhoed om hom in die openbaar en die sosiale media op sy naam te noem.

Waarnemende regter Selwyn Hockey het dit tydens gister se hofverrigtinge aan die predikant se prokureur gestel dis onmoontlik om elke post oor sy kliënt te verwyder, want dis reeds in die open­bare domein.

Volgens Hockey is Dolley-Major se plasings ook reeds deur ander mense geshare en sy (Dolley-Major) kan nie verantwoordelik gehou word vir plasings wat ander mense share nie.

“As ’n tussentydse bevel toegestaan word, sal die respondent versoek word om nie dinge wat die aansoeker se naam bevat in haar sosiale media te plaas nie. Dit sal staan tot haar volgende hofverskyning,” het Hockey verduidelik.

Die prokureur het daarop gewys dat Dolley-Major dan ook nie ánder moet aanmoedig om te post nie.

Dolley-Major het toe opgestaan en haar saak bepleit.

Gezip: June Dolley-Major mag volgens ’n hofbeslissing nie meer haar vermeende verkragter se naam openbaar maak nie.Foto’s: Peter Abrahams

Sy het aan die regter verduidelik dat sy nie net vir háár regte veg nie, maar ook vir dié van ander verkragtingslagoffers.

“Ons is in die maand van menseregte, ’n maand waarin mense jare gelede ook teen ’n onregverdige regsinstelling geveg het. Vandag doen ek dieselfde.”

Ooreenkoms

Hockey het Dolley-Major verseker dat sy bevel haar nie heeltemal gaan stilmaak nie en hoewel sy nie die applikant se naam in haar posts mag noem nie, mag sy steeds haar storie met ander deel.

“Dis net ’n tussentydse bevel dat jy nie oor die aansoeker sal plaas of sy naam noem nie.”

Die regter het die hof kortliks verdaag sodat Dolley-Major en die prokureur tot ’n ooreenkoms kon kom.

Nadat Dolley-Major getroos is en haar trane afgevee het, het sy met die prokureur gepraat.

STAAN OP: Eerw. June Dolley-Major sê sy fight ook vir ander verkragtingslagoffers.

Sy het die prokureur meegedeel sy sal instem tot die regter se versoek, maar toe die prokureur vra dat sy ook haar Facebook settings na privaat verander, het sy geweier.

“Jy vra my nou iets wat die judge nie gevra het nie.

“Ek sal dit nie doen nie, want my werk is om ander te help.”

Hockey se finale beslissing was dat Dolley-Major nie haar vermeende verkragter se naam in die sosiale media mag noem nie en ook nie oor hom post nie.

Vasbeslote

Lucinda Evans, ’n vroue-aktivis, vertel gister aan Son hulle sal voortgaan om te veg.

“Ons sal nie stilbly nie,” het Evans vasbeslote gesê.

vuur en vlam: Lucinda Evans sê hul stryd duur voort.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters