4 maande gelede
KYK: Ná trauma uit tronk harass
FAITH (3) en Conray (1) Adams FOTO’S Verskaf  ~ 

’N VERMEENDE 28’s- bendelid wat glo sy meisie se twee kinders vermoor het, kasty familie van die kinders met oproepe uit die tronk.

Derek Karlmeyer (50) het gister in Vredenburg se landdroshof verskyn.

Hy loop hof vir die moord op Conray (1) en Faith (3) Adams. Die tweetjies was die kinders van sy meisie, Frizaan Adams (25).

Gestry

Karlmeyer is vroeg in Mei vir die moorde gearresteer.

Volgens die Adamse het hy die kinders 28 keer gesteek toe hy nie by hulle ma kon uitkom nie.

Die twee het glo gestry omdat Frizaan se vriendin nie saam met ’n vriend van Karl­meyer wou loop nie.

Hoewel gister se hofverskyning vlugtig was, was dit genoeg om die Adamse se ondersteuners weer warm onder die kraag te maak.

Die mense was veral vies omdat Karlmeyer soos ’n lid van die parlement ge­guard is.

“Hulle beskerm ’n man wat kinders vermoor het wat nie hulleself kon beskerm nie,” het een van die hofgangers gesê.

Die mense was ook niks happy dat Karlmeyer gister nog vol smiles was nie.

Die kersie op die koek is dat Karlmeyer glo gereeld vir Denise Adams, Frizaan se ma, bel.

“Hy weet wat hy gedoen het en is nie sorry nie.”

Denise sê sy beantwoord die oproepe, want sy soek antwoorde.

“Hy sê ek moet vir Frizaan vra hoekom sy weg­gehardloop het. Hy pak alles op haar.

“Ek het hom gevra of hy haar dan saam met haar kinders wou doodmaak.

“Op dít kan hy nie antwoord nie.”

Denise sê ook Karlmeyer brag hy ken die law en sê hy gaan net een lewenslange vonnis vir die twee moorde kry.

“Intussen sukkel my kind om oor haar kinders se dood te kom.

“Sy is die laaste tyd baie stil en teruggetrokke.”

Die hof het gister gehoor die moord-ondersoek is afgehandel en die saak word na die Wes-Kaapse hoog­geregshof oorgeplaas.

Karlmeyer het nooit vir borgtog aansoek gedoen nie. Hy word in die Malmesbury-tronk aangehou.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters